Rooimiere

Deesdae sê mense iemand ly aan ADHD of, in Afrikaans, aandagafleibaarheid, maar in die ou dae het ons sommet gesê iemand het rooimiere. Sulke kinders kan nie stilsit nie, is  altyd aan die gang. Hardloop rond, vat hier en los daar, en kan net nooit tot ruste kom nie.

Ons het ook so ’n kind gehad maar omdat daar in ons dae nie veel aandag gegee is aan so ’n kind nie, was dit nie vir ons so ’n groot probleem nie. Onthou, in daardie dae is kinders gesien en nie gehoor nie, so die gevolg was hy het homself maar altyd besig gehou met iets. Ons het op ’n plot buite die stad gebly, en hy was maar altyd aan die prakseer aan paaie vir sy motors en lorries wat soms maar net ovaal visblikke was. Dié het hy volgelaai met klippe en sand en dan weer die volgelaaide “lorries” leeggemaak. Wanneer die speletjie vervelig geraak het, het hy putte gegrawe en soms sy suster se speelgoed daarin begrawe.

Toe hy groter geword het, kon hy help om die blom- en groentebeddings nat te maak. Daarna kon hy rondhardloop, spring en bal speel totdat hy heeltemal uitgeput was. Hy kon net nie stilsit nie en daarom was hy altyd besig om iets saam te flans. Dan het hy gesê hy sal nog eendag iets aanmekaar sit wat die mensdom sal verstom. Dit het nou wel nie waar geword nie, maar hy het altyd ’n plan wat hy besig is om uit te toets.

 Hy krap en grawe nog steeds maar sy tuin is ’n lushof. Om homself besig te hou, plavei hy maar om die huis en bou fonteine en dammetjies. Bruggies word gebou oor die waterstroompies en al wat ’n plant is word huis toe gekarwei. Op dié manier raak hy ontslae van al die rooimiere wat hom pla.

Nou is daar ’n troppie tarentale wat saans hulle kos wat hy vir hulle uitsit kom haal. Die nagapies wat in die wilgerboom by die visdammetjie bly, word ook gevoer. Wanneer hy hulle sien swaai van die voerbord terug in die boom, is hy in sy element.

Sy kleinkinders dink oupa is baie cool want hy het vir hulle swaaie en ’n klimraam gemaak, selfs ’n pophuis vir die kleindogter. Sy kuier te lekker by hulle want haar oupa is altyd besig om speletjies uit te dink. As sy daar kuier drentel sy al agter hom aan want oupa sal sommer nou-nou weer aan iets dink om haar besig te hou.

Hy is altyd aan die prakseer om iets uit niets te maak, al is dit net ’n tuinbank wat hy van die kamferhout gemaak het, omdat hulle die kamferbome moes uitroei. Nee wat, vir hom is daar nie iets soos verveling nie. Hy hou homself besig met enigiets wat sy hand vind om te doen van vleisbraai tot brood bak.

In Spreuke word gesê dat die luiaard na die mier moet gaan en sy maniere moet bestudeer en sodoende sal daardie persoon wys word. As mens na miere kyk, sien jy hoe hulle aanstreep met die kos wat hulle so pligsgetrou aandra. Een aaneenlopende streep met niemand wat hulle aanjaag nie. Is daar iemand wat met hulle raas as hulle nie doen wat hulle veronderstel is om te doen nie, of is hulle geprogrammeer om te doen wat hulle doen?

This entry was posted in Familie, Herinneringe and tagged , , . Bookmark the permalink.

10 Responses to Rooimiere

  1. net n ander iets se vrou sê:

    Ek het die storie baie geniet. Die ironie is dat die “rooimier” se kleinkind nou as erg aandag afleibaar gediagnoseer (spelling!) is en op medikasie daarvoor moet gaan. Ek voel ook daar is eintlik ander maniere om dit te hanteer, maar vind op die harde manier uit dat die skool lewe nou baie anders is as in ons kinders se dae. Daar is net nie tyd om met “moeilike” kinders in ‘n klas te sukkel nie.

  2. Ek het nie rooi miere nie. Of eerder my rooi miere is in my kop bedrywig, maar dit beteken nie dat ek nie kan stilsit nie.

    Ek weet, ek is net lui. 🙂

  3. seegogga sê:

    wat ‘n interessant afleiding- hiperaktiewe kinders moet op ‘n ander maniet besig gehou word en nie gedwing word om stil te sit nie! Meaganisiasie es ‘n probleem, maar kan hulle nie houtkappers, draadspanners en langafstand atlete word nie? Of wat van roeiers, swemmers lewensredders en diamantduikers?

    • klippie sê:

      Miskien is dit nodig dat die outydse liggaamsoefening terug gebring word nodig. Dan kan mens ook maklik sien wie in een van jou kategoriee sal val.

  4. MaanKind sê:

    Soek bietjie of jy Die Siel van die Mier van Eugene Marais iewers te lese kry.

  5. net n ander iets sê:

    Hierdie is n baie mooi storie maar ook n hartseer een en dalk n erenstige vingerwysing.
    In vandag se “designer labels” en “multi tasking” tyd doen ons nie dalk meer skade as goed om die “probleem” kinders met pilletjies en stropies en lang besoeke aan die kop-dokters klone te probeer maak waar almal presies dieselfde is nie? regte designer lable kindertjies Maar as volwassenes moet ons kan “multi task” Is die rond hardloop kindertjies dalk die wat later beter is in die afdeling nie?
    Die enetjie wat nie kan stilsit nie het miskien n gawe gekry wat mis gekyk word omdat die nie wil sit nie, kom gee nou maar daai kannie-worry pilletjie dat daar tog net stilte kan wees.
    In my dag was daar nie n pilletjie nie maar wel dissepline, n paar houe op die agterstewe om te leer dat daar reels is wat gevolg moet word en tyd is waar daar maar rond gehardloop mag word. O tog hier trap ek sekerlik n hele klomp tone nou. Jammer om te hoor maar n gebrek aan disipline is veel erger as n ooraktiewe kind
    Maar klone was daar nie.

    • klippie sê:

      Ek stem heeltemal met jou saam. Maar onthou, ons leef in die era vir kitsoplossings, so ‘n pilletjie hier en daar is makliker as om te probeer uitvind waarin die kleintjie belangstel.
      Ook, enige lyfstraf is vandag buite die kwessie

  6. seegogga sê:

    Op ernstige noot:Ek wil tog noem dat daar ‘n besliste verskil is tussen ‘n HIPERAKTIEWE KIND EN ‘N OORAKTIEWE KIND. ‘n Hiperaktiewe kind is nie so agv gebrek aan dissipline nie, hy kan eenvoudig nie anders nie en al die dissipline in die wereld gaan hom nie verander nie, want hy is nie stout nie. Hy het ongelukkig medikasie en/of baie spesiale aandag in die klas nodig om hom te help konsentreer. Hoewel hy dalk intelligenti is, sal hy swak doen as hy nie so gehelp word nie, omdat hy eenvoudig nie sy aanda lank genoeg by ‘n onderwerp kan bepaal nie. So ‘n kind sal bv ook nie kan stilsit en konsentreer op sy gunsteling TVvehaal nie. ‘n Ooraktiewe kind sal met genoeg fisies oefening en korrekte dissipline wel kan konsentreer! DIe probleem is dat kinders soms verkeerd gediagnoseer word.

    • klippie sê:

      Dankie, Seegogga. Ek dink die probleem is baie keer een van verkeerde diagnose. En dan het ‘n onderwyser my ook vertel dat kinders doodgewoon deesdae nie genoeg slaap nie om verskeie redes. Soms is kinders honger omdat hulle te laat opstaan om ontbyt te eet. Ek dink dat ervare onderwysers wel ‘n onderskeid kan tref.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s