Kommunikasie

Vroeër jare as iemand na jou sou kom en vir jou sê dat wanneer jy met ’n kind wil kommunikeer, jy op ooghoogte met hom moet wees, sou ons dit afgemaak het as snert. Noudat ek ouer is, en hopelik ook ’n bietjie wyser, besef ek dat dit waar kan wees.

Hoe reusagtig moet ’n grootmens vir ’n kleuter lyk. ’n Baba wat begin loop is skaars hoër as jou knie. Vir hom moet dit lyk asof jy aan die dak raak. Nou besef ek dat wanneer ek met my kinders geraas het, ek vir hulle soos ’n verskrikking moes gelyk het. Amper soos Goliat teenoor Dawid.

Ons het maar gemaak soos ons ouers met ons gemaak het. As jy raas moes kry, of soms ’n pak slae, is daar nie gedink aan hoe groot jy is nie. Jy is summier oor die skoot getrek en ’n paar houe met die plathand toegedien. My ma moes ons tug want my pa het gesê hy slaan nie aan ’n meisiekind nie. Ma het so ’n spesiale kyk in haar oë gekry en dan het jy al geweet dat jy in jou spore moet trap, want jou pak wag.

Ons meisies het geweet wat van ons verwag is om te doen en het ook geweet dat teëpraat nie sou gehelp het nie. Daarom het ons wat ons veronderstel was om te doen gedoen sonder om draaie te loop. Ons ouers het een keer gepraat en dit was klaar. Daar was nie gehoekom of gewaarom nie want Ma se woord was wet.

Nou besef ek dat om vyf dogters met verskillende geaardhede groot te maak nie ’n maklike taak is nie. Daar was ook groot ouderdomsverskille tussen ons wat dit nog moeiliker gemaak het. Ma was minister van finansies en wat ook al nodig was, moes uit Pa se salaris bygebring word. Nadat ek self ’n huisgesin met drie kinders, elk met sy eie behoeftes en grille en giere, gehad het, besef ek hoe goed sy was om ons almal te voed en vir klere te sorg. Daarby het sy nog ’n spaargeldjie afgeknyp en het ons nooit nodig gehad om iemand anders vir ’n aalmoes te vra nie. Vir my ma was werk soos asemhaal. En tussen dit alles moes sy ook die dissipline handhaaf.

Die spreekwoord sê mos: Met grysheid kom wysheid. Nou sit ek op die kantlyn en kritiseer die kinders se manier om kinders groot te maak (darem net in die stilligheid). Ek hou my mond so ver as moontlik want ’n stil bek is ’n heel bek.

Ek dink nog steeds dat ’n pak slae op sy tyd goeie raad is. Dit kan natuurlik ook oordryf word, maar ek dink soos die spreekwoord sê: ’n Pak slae op sy tyd is soos brood en konfyt. In die Dr Spock-era was daar begin met ’n sielkundige benadering van kinders grootmaak. Maar ek het ook gesien wat die resultate van daardie era was. Deesdae word ’n tweejarige se “tantrum” mos ’n vloermoer genoem maar in ons dae het ’n plat hand die kleintjie sonder enige moeite van die grond af gelig.

Aan die ander kant dink ek tog dat dinge nie net sommer as stoutighede afgemaak moet word nie, maar dat ons met die kinders moet kommunikeer; met elkeen volgens sy ontwikkelingsfase. Gelukkig is my kleinkinders nou groot en hoef ek nie meer op my knieë te sak om met hulle te praat nie. Nou is ons op dieselfde hoogte en kan ons saampraat oor wat reg en verkeerd is.

This entry was posted in Huislewe, Kinders and tagged , . Bookmark the permalink.

One Response to Kommunikasie

  1. MaanKind sê:

    Ek stuur jou skakel vir my dogter wat my kleinkind so geduldig grootmaak.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s