Kinderopvoeding?

Vanoggend lê ek lekker in die bed en dink aan die kinderrympie wat almal seker aan moedersknie geleer het:

Duimpie
Duimpie se maat
Langeraat
Fielafooi
Piepie in die kooi!

Die kleintjie skater van die lag, veral oor die “piepie in die kooi”. So word almal die rympie geleer en wanneer jou kinders gebore word, word hulle ook die rympie geleer. Vir alle kleintjies bly dit ’n groot lekkerte en gewoonlik kan hulle nie genoeg kry van die speletjie nie. En natuurlik word die kleintjies so vertroud gemaak met elke liggaamsdeel.

Die ander kleuterspeletjie wat vir ons alte lekker was, was “al om die huisie”. Terwyl die baba of kleuter op sy ruggie lê, beweeg jy jou vingers in die rondte om sy gesiggie. Dan loer jy kamstig by die venstertjies in, naamlik die baba se oë, klop aan die deur (op die voorkop), draai dan die deurknop (die neusie) en gaan by die oop mondjie in wat dan die deur sou wees. Alles tot groot genot van die kleintjie wat gewoonlik nie genoeg daarvan kan kry nie en nie wil hê dat dit moet ophou nie.

Nou word kinders van babadae af groot in ’n creche of speelskool en wonder ek soms of ouers nog tyd het om sulke speletjies te speel. Die kleintjies is van vroeg tot laat in iemand anders se sorg wat ook meeste van die ontwikkeling van die kleingoed sien terwyl ma en pa hard aan die werk is.

Nou die dag het ’n kindersielkundige oor die radio gesê dat kinders hulle ouers sien en daarom doen soos die ouers. Dit is hulle grootste leerskool. Maar as hulle heeldag in iemand anders se sorg is, wat leer hulle? Wat die ouers vir hulle sou leer of is die persoon/skool/creche se lewensfilosofie anders as die ouers s’n?

Ja, ek weet omstandighede is so dat albei ouers móét werk en dat daar baie enkelouers is en daarom kan mense nie anders nie. Juis daarom is dit nodig dat die tydjies wat mens het benut word om saam te spandeer en te kommunikeer.

Gister by die restaurant het ek ’n gesinnetjie gade geslaan. Ma was besig op haar skootrekenaar, pa het die koerant gelees en al drie die kinders het op hulle “gameboys”, of wat mens dit ook al noem, gespeel. Nie een het iets vir die ander te sê gehad nie. En so tussen die lees en speel deur, is daar geëet.

Vir ’n ou tannie van tagtig was dit darem bietjies te dik vir ’n daalder en het ek gewonder of ons nie maar soos vroeër weer tye aan tafel saam kan geniet en oor dinge wat vir ons van belang is kan gesels nie. In daardie halfuur of uur sal niks immers weghardloop nie. Laat wag daardie Facebook vriendin ’n bietjie, stuur die sms later en laat die telefoon ’n boodskap neem. As jy vir daardie mense belangrik is, sal hulle nie omgee om te wag nie. Terwyl mens aandag aan mekaar gee by die etenstafel,  sal die kinders dan ten minste weet wat hulle eet en ook kontak hê met hulle ouers. Die persoonlike kontak, dink ek, is en bly belangrik vir die ontwikkeling van die kind.

This entry was posted in Huislewe, Kinders and tagged , , . Bookmark the permalink.

4 Responses to Kinderopvoeding?

  1. Ek dink die mense speel tog met hulle kinders ook. Dit is bloot net te lekker om dit nie te doen nie.

    Ek moet erken dat ek dikwels skuldig is aan die selfoon in die restaurant, maar ek weet nie of ek dit op ‘n gesinsuitstappie sal doen nie.

  2. MaanKind sê:

    Die lewe het so verander, hoewel ek pal voor my rekenaar sit en my Blackberry aan my hand gegom is, voel ek baie dae soos ‘n alien!

    • klippie sê:

      Die tegnologie is wonderlik want dit bring mense nader aan mekaar. Maar natuurlik is daar ook die teenkant waar mense wat na aan mekaar is as gevolg daarvan van mekaar verwyder kan word.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s