Die lewenspad

Die lewe is soos ’n pad. Met elke kilometer wat jy aflê, verander die omgewing. Partykeer is die pad sonder slaggate en ry mens lekker gemaklik. Dan verander die pad ’n entjie vorentoe in ’n heen-en-weer geswaaiery om die slaggate te probeer vermy. Wanneer jy so lekker ry en alles verloop glad, word jy onverhoeds betrap deur ’n slaggat waarvoor jy moet uitswenk sodat jy nie met ’n pap wiel sit nie.

Mens het aanvaar dat jou lewe seepglad sou verloop en die pad vorentoe gelyk sou wees. As kind was daar nie bekommernisse nie; iemand anders het die pad vir jou gelyk gemaak. Geldsake was nie voor jou bespreek nie. Jy het net geweet dat alles vir jou in jou ouers se hande gerus het. Dit was ’n lang, gelyk pad sonder hindernisse.

Toe breek die tyd aan waar jy self moet begin verdien. Vir my was daar nie geld vir verdere studie nie; ek moes uitspring en my kant bring. My pa het geglo dat sodra jy self begin verdien het, moes jy ook terselfdertyd leer van verantwoordelikheid en geleer word om met geld te werk. Eerste van alles moes ons ons losies betaal; daar was geen verniet blyery nie. Daarna kom jou vervoergeld tussen huis en werk en wat oorgebly het was joune om te spandeer. Ek moes so begroot dat ek die hele maand met die salaris moes uitkom. Geld leen was nie toegelaat nie, behalwe in noodgevalle. En wanneer ek geld geleen het, hoe klein die bedrag ook al was, moes ek dit terugbetaal. Daar was geen uitstel of afskryf van skuld nie. Dit het ons geleer om die slaggate te vermy en geen aankope te doen waarvoor ons nie eintlik geld gehad het nie.

Dan raak mens verlief en die pad loop vir eers gelyk, sonder op- of afdraendes. Mens sien kans vir die pad wat so voor jou uitstrek. Dit is nou totdat die eerste pap wiel opduik. Dan besef jy jy kan nie altyd ’n egalige spoed handhaaf nie. Nou moet daar eers van die pad afgetrek word en die pap wiel moet vervang word. Dan ry jy verder en alles gaan goed vir die volgende paar kilometer. Dan duik daar groter probleme op wat meer en dringender aandag verg. En dit kos ook meer geld om reg te maak. Dan ry jy weer gemaklik verder.

En dan kom die  groot ongeluk. Egskeiding of dood. Nou is die pad soos wat mens elke dag in die koerante lees of op TV sien: ’n totale chaos. Die pad is gesluit weens die toestand van die oppervlak.

En wanneer jy jou oudag bereik is jy op die grondpaaie: die stof is so dig dat jy nie voor jou kan sien nie en daar is so baie hobbels dat jy nie weet watter kant toe die kar gaan spring nie. Dan onthou jy met nostalgie die pragtige paaie waarop jy gery en geloop het en weet jy dat jy dit nie anders sou wou hê nie, slaggate en al. Opdraend op en afdraend af. So gaan mens voort tot jy die doodloopstraat bereik.

This entry was posted in Leefstyl, Oudword and tagged . Bookmark the permalink.

2 Responses to Die lewenspad

  1. MaanKind sê:

    Ai Klippie! Daardie is darem nie heeltemal ‘n doodloopstraat waarheen ons op pad is nie. Miskien verander die pad heeltemal, en is daar dan ‘n paadjie wat net jy dan kan sien, wat voor jou uitstrek. My paadjie begin ook hobbels maak, en dan maak dit seer soos ek wobble en skud daaroor.

    • klippie sê:

      Ja, ek stem. Met die herlees besef ek dat dit darem baie pessimities klink. So ek wil die volgende graag byvoeg:

      As jy verder in die doodloopstraat inry, sien jy in die verte ‘n brug. Dis ‘n groot brug oor ‘n bree rivier maar wat aan die ander kant le, is nie duidelik nie. Maar wat ek verwag, is ‘n gelyk pad sonder enige slaggate of hobbels deur die mooiste natuurskoon wat enige mens nog ooit gesien het.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s