Vye en granate

In my gedagtes is ek vanoggend terug op die plot waar ek onder ’n vyeboom staan en die heerlikste soetste vye pluk. Ek eet dit sommer daar en dan. Wat kan nou lekkerder wees as dit? Ek sien die voëls geniet dit net so want oral aan die boom is daar ’n halfgeëte vy.

Vir ons as kinders was vye so alledaags dat ons nie onsself kon indink dat daar ’n tyd sou aanbreek dat vye as ’n eksotiese bestanddeel in ’n dis op ’n restauranttafel sou verskyn nie. My pa het ons die gewoonte geleer om ’n sny brood dik te smeer met botter en dan ’n vars vy sommer so van die boom af daarop te smeer. Dit was koningskos. In seisoen was daar altyd ’n bak vars vye op die ontbyttafel. Nou moet ons ver ry om ’n vy in die hande te kry.

Sodra die tyd aangebreek het om vyekonfyt te kook, moes ons kinders elke aand ’n groot mandjie groen vye gaan pluk. Die vye moes dan geprik word en daarna moes dit oornag in kalkwater lê. Ons was maar lui en het steen en been gekla oor die vyemelk wat ons agterna van ons hande afgewas moes kry. My ma het egter daarmee geen simpatie gehad nie. Dit was jou werk en klaar.

Môre-oggend het Ma die vye gekook tot amper deurskynend in die heerlike vyestroop. Ag, hoe water my mond nou!

Toe trou ek met ’n man wat ’n bobaas konfytmaker was. Hy het vyekonfyt by die dosyne bottels verkoop. Ek het nooit kon dink dat daar ’n tyd sou aanbreek waar ’n mens so duur sou moes betaal vir ’n botteltjie vyekonfyt nie.

Ons het ook die adamsvy geken. Dit is ’n perskleurige vrug maar dit het nie vir ons dieselfde as die gewone groenvy gesmaak nie.

Granate was ook vrugte wat nie juis hooggeag is in ons tyd nie. Vir my as kind het die vrug met die uitgroeisel met vyf of ses kepies in altyd aan ’n koningskroon laat dink. Die vrugte was so geel-rooi van kleur wanneer hulle ryp was. Ek onthou die oopbreek van die vrug en die rooiblink pitte tussen die vliese van die granaat. As kinders het ons soms die vrugte van die grond af opgetel en mekaar daarmee gegooi. By ons was ’n granaat maar net ’n granaat: ’n vrug wat gepluk was en in ’n bak op die tafel gesit is vir versiering.

Dit was altyd lekker om die granate uit te dop en die pitjies vir die kleiner kinders te voer. Sodra die kinders groot genoeg was om hulle eie granaatpitte uit die vliesies te dop, kon jy hulle lank besig hou.

Nou is ons gelukkig as ons granate gekoop kan kry teen R50/R60 per kilo. Mens kan ook granaatsap en uitgedopte granaatpitte by eksklusiewe winkels teen ’n prys kry.

Ek het nou die dag gehoor dat granate en vye van Oosterse afkoms is. Selfs in die Bybel lees ons van granate en vye. Dis net jammer dat dit nie meer algemeen te kry is nie. Min agtertuine het nou ’n granaat- of vyeboom.

Ai, hoe mis ek die smaak van ’n vroeë vy op my nugtermaag!

This entry was posted in Herinneringe, Kos and tagged , . Bookmark the permalink.

8 Responses to Vye en granate

  1. MaanKind sê:

    Ons het ook grootgeword met vrugtebome van elke soort. Vyeblare brand as jy in die boom klim, en die takke breek! Gelukkig staan hier ‘n paar vyebome in ons dorp, ek kry so nou en dan enetjie.
    Ek mis die ronde, soet koejawels van my kinderjare. Mens kry dit glad nêrens te koop nie.

  2. Pingback: Kos uit ons kinderdae « MaanKind

  3. Jy maak ‘n mens lekker honger! Mooi vertel, dankie!

  4. net n ander iets sê:

    Ek het gese dar moet n paar bome in my tuin wees
    n granaat
    n kweper
    n olyf
    en toe kry ek sommer ook n appelkoos en n koejawel en n moerbei en n likwart rn n avokado ook net om aan die kinderdae te herinner.
    dink ek moet ook van ons inheemse veldvrugte begin plany soos mispel suurpruim en stamvrug

  5. seegogga sê:

    Ek is bervoorreg om ‘n heerlike groot vyeboom te he. Daar is genoeg vye aan vir my , die bure, die voel en die hele rolbalbaan(agter my). Eendag toe ek en my buurvrou groen vye pluk en ons hande so lekker keuk en brand, pluk sy ‘n groot vyeblaar af, hou dit so voor haar, en se: ” Kan jy dink hoe moes Adam en Eva gevoel het?”

  6. seegogga sê:

    ek bedoel natujurlik voels!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s