Bonsai

Kyk mens na ’n bonsaiboompie, wonder jy hoe ’n boompie in so min grond kan groei. Dit word kunstig gesnoei en, ten spyte van die min grond, dra dit blomme en ook vrugte as dit ’n vrugteboom is. Dit laat my dink aan iets onnatuurliks, iets wat nie bedoel was om so te wees nie. En al bewonder ek bonsaiboompies, is dit ’n karikatuur van wat dit eintlik moes wees, as jy my sou vra.

Smaak verskil gelukkig. Waar ek die boom van natuurlike grootte verkies, is daar duisende ander wat anders oor die saak voel.

’n Bonsai-entoesias kan regte kunswerke optower met ’n snoeiskêr en ’n paar draadjies. Hy verbuig die boompie dat ’n eeu-oue boom natuurlik lyk in sy miniatuurvorm. Word ons lewens nie ook maar so gebuig en gesnoei deur ’n Hoër Hand nie? Wil Hy hê jy moet ’n replika wees van die volwasse boom?

Nou die ander dag was ons by ’n kwekery waar daar van elke moontlike boomspesie ’n bonsai weergawe is, selfs ’n bougainvillea in volle blom. Die persoon wat dit voortgebring het, het duidelik ’n passie vir die kunsvorm. Hy (of sy) het sekerlik ook ’n oog vir die vorm en detail wat in ’n bepaalde boompie gevorm moet word. Die pryse vir die bome is hemelhoog, maar dit is aanvaarbaar want die tyd wat daaraan bestee is, kan nie in geld bereken word nie.

Bome en struike kan nie praat nie maar ek wonder of hulle, as hulle sou kon praat, sou wou sê dat hulle ook eintlik normale grootte bome sou wou wees. Mense redeneer natuurlik dat dit kunswerke is en die mens regeer oor dier en plant. Ons kan maak wat ons wil met dit wat aan ons toevertrou is.

Deesdae kan alles mos in miniatuurvorm gemaak word, miniatuurhonde, bome, perde, koeie. Die Sjinese kweek selfs miniatuurwaatlemoene, skaars groter as pekanneute. Ek wonder hoeveel mens daarvan sal moet eet net om te proe wat jy eet.

Eintlik meng ons in met alles wat lewe, ons wil dit verander na ons smaak. Ons manipuleer, verbuig en verbou net omdat dit binne ons beheer is.

So is dit ook in ons lewens, ons jaag na al hoe meer dinge sodat ons kan spog met dit wat ons reggekry het. Maar, dink daaraan, daar is ’n doel waarvoor ons op aarde is, iets waaraan ons nie kan verander nie; dit is ingebou in jou van jou geboorte af. Sekere mediese probleme kan nie verhelp word nie, want dit is in jou gene ingebou, al is dit iets wat jy graag ongedaan sou wou maak. Iemand wat ons ’n  dwergie noem, sal miskien ook ’n normale grootte persoon wil wees. Daar klop immers ’n normale hart in so ’n  persoon.

Lees maar Psalm 139 en dan besef jy dat jy nie aan daardie bloudruk kan verander nie.

This entry was posted in Leefstyl and tagged , . Bookmark the permalink.

2 Responses to Bonsai

  1. MaanKind sê:

    Man playing God. Dis net nie reg nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s