’n Oomblik op die lippe …

My kleindogter is in die kombuis besig om ’n malvapoeding te bak. Die geur is onbeskryflik heerlik en ek kan nie wag om te proe of die smaak, nes die geur, hemels sal wees nie. Ek weet voor my siel dat die ekstra skeppie poeding met maar weer op die heupe gaan sit. Ag, waar is die dae waar ek maar kon eet wat ek wou en nooit enige ekstra gewig aangesit het nie! Noudat ek ouer word, voel dit my, ruik ek net iets lekkers en ek word dadelik vetter. Dis seker ’n probleem wat ek met meer as een ander mens deel, maar dit word al hoe moeiliker om nee te sê vir daardie lekker happies.

Hoekom smaak kos in die winter soveel lekkerder vir my as in die somer? Ek wil ook net heel dag peusel. My grootste swak is natuurlik warm sjokolade of Milo. Ek weet ek mag nie, maar dit is só lekker. So, Kleinklippie, maak vir my daar ’n bietjie Milo om die beendere bietjie te verwarm, asseblief.

Met ’n liggaam wat nie aldag wil saamwerk nie en met min beweging oor in die bene, word oefeninge ’n nagmerrie. Dan strek ek maar my bene so lê-lê op die bed. Skop hulle in die lug en verbeel my ek ry fiets. As iemand vir my moet loer terwyl ek so op my eie lê en oefen, lag hulle seker lekker en dink daar is iets verkeerd met hierdie ouma.

Kos word seker maar vir ons ’n troos, veral wanneer ons liggame nie meer altyd saamwerk nie. Dan prop ek maar nog iets lekkers in my mond. Nou kom daar ’n ander probleem by: kortisoonpille om die pyn draagliker te maak. Die pille verrig wonders, maar dit het ’n erge newe-effek: ekstra gewig word sommer bygesit as ek net asemhaal.  Sonder die pille kla ek heeldag oor die eina en maak my kinders gek met my geklaery. Sluk ek die pille, kla ek minstens minders. Wat kies mens: vet of minder pyn? Baie mense (ook sommige dokters) sê jy moet aan die toekoms dink en eerder die pyn uitstaan. Maar vir my staan dit soos ’n paal bo water: ek kies maar eerder die vet.

Toe ons jonk was, het ons miskien anders gaargemaak of miskien was ons kos nie so gedokter met allerhande byvoedings wat by hoenders en slagdiere se voer gesit word nie. Ons kookgewoontes was nie noodwendig gesonder nie, want ons het alles met botter voorberei. Ons het ook nie aan gimnasiums behoort nie; ons oefeninge was maar loop, buk, skrop, skoonmaak. Toe het ek altyd gewonder hoekom ek nie ’n bietjie gewig kan aansit nie want ek wou so graag net bietjie mollig gewees het. As ek toe geweet het wat ek nou weet, sou ek dit definitief nie gewens het nie.

As mens die advertensies moet glo, is oorgewig nogal ’n groot probleem. Daar is soveel middels en dieetprogramme, dat mens eintlik verstom is dat daar nog mense is wat oorgewig is. Ek is seker iemand word ryk met al die foefies wat vir gewigsverlies uitgedink word.

Volgens my is daar geen kitsoplossing vir gewigsvermindering nie. Dit werk natuurlik wonders om net die kop te skud wanneer iets lekkers aangebied word. Maar dit vat wilskrag om nee te sê vir iets wat lekker ruik en smaak. Die kos lyk ook so verleidelik op die TV-skerm. Daar is soveel kosprogramme wat jou eintlik verlei om weer ’n nuwe resep of metode uit te probeer.

Ag, vir wie probeer ek bluf? Kleinklippie, terwyl jy die Milo maak, skep sommer nog ’n bietjie van daardie malvapoeding in – en moenie die room vergeet nie!

This entry was posted in Kos, Leefstyl and tagged , , . Bookmark the permalink.

2 Responses to ’n Oomblik op die lippe …

  1. seegogga sê:

    Op 50 het ek besef dat een van twee keuses het- ek kan die res van my lewe geniet, of ek kan die res van my lewe hongerly. Maar die lewe is kort- ek geniet dit liewer!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s