Winter

Ek luister na die wind wat waai en sien die droë blare afdwarrel grond toe, die grys wolke wat laag oor die landskap hang. My gemoed neig ook al na die gryskant vandag.

En ek dink aan die miljoene mense, veral kinders, wat so graag net ’n bietjie meer hitte sou wou hê. Die sinkkaias is nie dig genoeg om die koue buite te hou nie. Buite speel is ook buite die kwessie want daar is nêrens ’n skuiling teen reën en wind nie.

Wat maak ’n ma in sulke omstandighede? Haar humeur ruk handuit want daar is nie ’n afskakeling van lawaai, baklei en rusie maak nie. Daar is net twee kamers wat almal moet huisves. Baie keer is daar ook kleintjies wat knaend honger is maar daar is nie genoeg kos nie. Die man gaan werk vir ’n karige loon en dan kom hy vanaand huis toe waar daar nie eers ’n hoop is op ’n warm bord kos wat wag nie. ’n Huisie wat met ander boonop gedeel moet word.

Ons kan ons kwalik in sulke omstandighede indink; met genoeg kos om te eet, baie spasie en ’n plekkie waar jy kan stil wees, al is dit net ’n warm skuimbad.

Hoeveel depressie en wanhoop moet daar in so ’n klein huisie heers as mens vannag wakker lê en dink aan môre wat troosteloos voor jou uitstrek.

Hoeveel keer ry ons verby ’n kind wat by ’n robot staan en bedel en vir ons sê hy is honger. Daardie persoon moet wanhoop tot in sy diepste wese ervaar, ’n uitsiglose toekoms tegemoet gaan.

Kospryse styg aanhoudend en salarisse word nie juis baie groter nie – dink maar aan jou eie salaris aan die einde van die maand. Dan is daar so baie mense wat nie gelukkig is om werk te hê nie. Hoe kry 6 miljoen werkloses in ons land iets op die tafel, wat nog te sê van ’n warm kombers of trui aan die kinders se basse?

Ons was ook arm en het ook nie die luukses gehad wat gemiddelde mense deesdae het nie. Ons ma het nie buitenshuis gewerk nie en daar was ’n groot gesin wat moes groot kom. Ons het nie elektrisiteit gehad nie en mieliestronke en hout was ons vuurmaakgoed. My ma moes die kos rek om al die mae vol te hou. Planne het sy wel gemaak en was dit nie miskien altyd wat die koskenners vandag as gesond sou beskou nie. Maar ons mae was vol en ons was gelukkig.

Daar was altyd ’n paar hoenders op die werf en eiers is in alle denkbare vorms opgedis. In geval van onverwagte eters, is een van die hoenders geslag. Bredies met goedkoop snitte vleis was aan die orde van die dag. Ons het stampmielies en mielierys, wat goedkoper as rys was, gebruik.

Boontjiesop was my ma se grootste lekkerte om te kook want sy het sommer boontjies in die tuin gegroei. Die boontjies wat aan die einde van die seisoen oorgebly het, is gedroog vir die volgende winter se boontjiesop.

Pap was ons ontbytkos. Ons het nie, soos nou, ’n verskeidenheid gehad om van te kies nie. Partykeer was daar net pap en suiker. Brood en varkvet was ons middagete. Ek sien sommer hoe gril vandag se kinders as hulle daarvan hoor.

Skoene was net vir kerk en uitgaan, anders het ons kaalvoet oor die weg gekom. Klere was min maar skoon. Ons het ook maar aangegee na die kleiner kinders toe en was gelukkig om weer van die ouer niggies se hand me downs te kry.

Maar nou in die plakkerskampe is spasie tussen die huisies so min daar is nie eens plek om ’n boompie, of groente om selfvoorsienend te word, te plant nie. Water is ook skaars. So vooruitsigte vir mense in sulke omstandighede is maar skraal.

Wat sê mens vir iemand wat nie meer hoop het nie? Hoe voel ’n jong vrou wat net die beste vir haar kinders sal wil gee as daar nie genoeg kos is nie? Hoe inspireer mens iemand om positief te bly as hulle so min het en vooruitsigte op verbetering maar skraal is? Dit is hoe dit in miljoene huise gaan en oplossings vir die probleem is nie maklik te vinde nie. Miskien het ek myself nou net in ’n swartgallige bui ingeskryf maar krete om hulp is soos ’n geroep in die wind.

This entry was posted in Leefstyl, Winter and tagged , , . Bookmark the permalink.

2 Responses to Winter

  1. MaanKind sê:

    Baie dae as ek dink aan ons grootwordjare (wat nie veel verskil van wat jy hier vertel nie) dan dink ek, ons het darem hoenders en groente en vrugte gehad. Jy is so reg!

    • klippie sê:

      Ja, in daardie opsig was ons regtig bevoorreg.

      Weet jy hoe verlang ek hierdie winter na die koolstoof? Dit het die hele huis lekker warm gemaak en vir die heerlikste kiuerplek in die winter gesorg.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s