Moenie droom nie, doen!

Die kolganse kuier hier by ons. Elke oggend word ek wakker gekwaak (of watse geluid maak hulle?). Dit is nogal ’n skotige opdraende paadjie van die hek tot by die swembad en ’n belewenis om die kolgansfamilie dop te hou wanneer hulle van die hek af opgestap kom. Dan swem en duik hulle in die swembad. Dit lyk te heerlik. Ek wens ek kon party mense so opgewonde sien so vroeg in die winterkoue.

Die baie koue dae wat ons beleef het, het die kinders al hoe meer laat verlang na nog ’n lekker indompel onder die vereduvet. Geen gedagte aan swem op so ’n koue wintersoggend nie. Dis natuurlik ’n probleem om die kinders te motiveer om op te staan op so ’n dag.

Die lug is helder skoon sonder wolke maar die windjie sny nogal koud om die hoeke van die huis. Met elektrisiteitspryse kan mens ook nie bekostig om die verwarmer aan te sit en aan te hou nie. Dus soek ek maar ’n sonkolletjie by die eetkamertafel waar ek nie nodig het om ’n kombersie oor die ou bene te gooi nie.

Omdat Jan Tuisbly se karretjie nou my enigste vervoermiddel is, kan ek nie meer soos vroeër na die warmer oorde uitwyk nie. Ek dink met heimwee terug aan die bosveldhitte, selfs hierdie tyd van die jaar. My man was altyd gereed om die lang pad te vat en nou is hy ook nie meer hier om my herinneringe te deel nie. Met kinders wat so besig is en kleinkinders nog besiger moet ek nou maar op “onthou-jy-nogs” lewe. Dan speel jou lewe af in ’n film waarvan net jy nog hou. Nuwerwetse uitvindings is immers baie interessanter as om na ouvroustories te luister. Miskien klink dit bietjies te swartgallig. Ek pak eerder die dag aan en onthou dat daar nog mense is wat vir my lief is.

Aan mense wat nog ’n paar jaar het voordat hulle aftree is my raad om nou soveel as moontlik te reis. Vir veertig jaar swoeg en sweet jy en droom oor die plekke wat jy eendag gaan besoek en dan wanneer die dag aanbreek, is daar soms onoorkomelike probleme. Ons het daarvan gedroom om na aftrede so al met die son saam te reis. En soos meeste mense wat ek ken, kon ook ons nooit daardie droom realiseer nie vanweë gesondheids- en ander probleme. Ander moet weer ’n geliefde aan die dood afstaan en vir ander is daar ook weer die finansiële realiteite wat hulle drome daar en dan kortknip.

Toe ons afgetree het, het ons nie sulke pakkette ontvang soos waarvan die mense deesdae praat nie. Ons geldjies moes maar met oorleg spandeer  word en daarom het ons eers gekyk na iets om te doen, nie net om jouself besig te hou nie, maar darem ook ’n inkomstetjie kon genereer.

Ons het aarbeie geplant maar dit was rugbreekwerk.  Aarbeie is vars verpak in pakkies, daar is konfyt gekook en allerhande ander dinge gedoen om die aarbeie te benut. Die pluk was die ergste. Deesdae is mense baie slimmer: hulle laat voornemende kopers sommer self die aarbeie pluk en verkoop dit dan per gewig. Ons het ongelukkig nooit daaraan gedink nie en moes dit maar self pluk, verpak en verwerk. Ek moet darem erken dat dit die mooiste, grootste, rooiste en soetste aarbeie was wat jy jou kan bedink. Daar word my man toe siek en moes die aarbeiboerdery gestaak word en daarmee saam ook die droom om nog verdere reise aan te pak.

Dus is my raad steeds dat julle dit wat julle nou kan, saam moet geniet. Besoek al die plekke wat so wink en waarvan jy nog altyd gedroom het. Gaan nou, moenie uitstel nie want, soos julle weet, van uitstel kom afstel. En voor jy jou kom kry, sit jy waar ek sit met drome wat nooit bewaarheid is nie.

This entry was posted in Drome, Reise and tagged , . Bookmark the permalink.

4 Responses to Moenie droom nie, doen!

  1. seegogga sê:

    so het ons almal drome wat nooit bewaarheid word nie, maar snaaks genoeg, hoe ouetr ek word, hoe minder belangrik word dit. Ek wou altyd so graag Kilimanjaro klim en van johannesburg Kaap toe ry met ‘n fiets-regtig! Maar ek het ‘n vermoede dat dit nooit gaan gebeur nie, en dis ok. Ek stem egter saam met jou- reid en doen wat jy kan terwyl jy kan!

    • klippie sê:

      Jy is so reg, met die ouderdom saam kom dinge mos meer in perspektief. Ek het kosbare herinneringe en my kinders en kleinkinders is wat nou vir my belangrik is, nie daardie dinge wat ek sou wou gehad of gedoen het nie.

  2. net n ander iets sê:

    net om die im die koue dele jaloers te maak, het giser in ou boksie geklim en amper 499km gery al op die agterpaaie van die boaveld in die lekker winter sonnetjie, plekke gery waar mens net van hoor van iemand wat toevallig daar was soos Rankins pas en Bakers Pas. lling maak elke naweek wat ons kan n ander gedeelte gaan verken, en as dit moet vergadering toe maar n uur of twee langer ry en eerder daai stofpad aandurf, o ja party van daai stof paaie is beter as die heedendaagse teer.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s