Rystoel onvriendelik

Nou die dag het ons ’n ietsie by Woollies gaan eet. Die eetplekkie was nogal redelik vol en sitplek maar ’n bietjie skaars. Omdat ek in ’n rolstoel is, is dit nogal moeilik om altyd ’n geskikte plek te kry. Kelners help ook nie, so moet die persoon wat die rystoel stoot maar mik en druk om iewers te kan inpas.

By sommige van die tafels, nogal dié wat die toeganklikste is, was daar net een persoon. Maar hulle maak of hulle nie sien hoe ons sukkel om tussen die tafeltjies deur te kom nie. Skielik is daar ’n vroutjie wat sommer die mense begin vra om hulle tafeltjies so bietjie eenkant toe te skuif sodat ons met die rystoel daarby verby kan pas. Die mense was nogal nie baie geneë met die skuiwery nie; een het sommer hardop gewonder wat ons daar met ’n rystoel soek. Verkeerskonstabel is glad nie gelukkig met haar gesindheid nie en laat dit sommer blyk, sonder om te blik of te bloos.

Uiteindelik sit ons darem. Verkeerskonstabel kom toe verduidelik hoekom sy so omgekrap is. Haar man, wat nie saam met haar winkels toe gekom het nie, is met beenkanker gediagnoseer en is ook nou rystoelgebonde. Orals waar hulle kom, is dit ’n gesukkel want daar bestaan nie so iets soos rystoel vriendelike winkels of restaurante nie. So het sy geleer om maar min of meer self die hef in die hand te neem. Sy was nogal omgekrap oor die vrou wat nie ’n duim wou versit om vir ons plek te maak nie. Ek en my dogter was egter baie bly vir die hulp wat sy ons gegee het. Sy verdien ’n groot ruiker.

Wat ook verbasend is, is dat restaurantpersoneel (en dis nie net by Woollies nie) nie opgelei word om mense in rystoele te help nie. Dis al asof hulle nie raaksien of besef dat mense met rystoele meer spasie nodig het as ander nie. Partykeer staan hulle eerder vir hulle naels en kyk as om te kom help om ’n stoel te verskuif sodat mens net die rystoel by die tafeltjie kan instoot.

Ander klagtes is daar ook: by die betaalpunte, as mens met ’n krediet- of debietkaart wil betaal, is die koord van die masjientjie so kort dat die persoon in die rystoel nie self die pinnommer op die masjientjie kan intik nie. O, maar ek het vergeet, as mens in ’n rystoel is, is jy moes verstandelik gestremd ook!

By die haarkapper moet mens iemand kry om jou te help om die stoel binne te kry, want die trappie is bietjie hoog en, omdat ek swaar is, sukkel my dogter om my by die trappie opgetrek te kry. My dogter moes selfs by ’n groot kettingwinkel gaan kla omdat hulle nie ’n oprit vir rystoele na hulle ingang gehad het nie. Dié is sedertdien reggestel. Maar dis so al asof hulle wil sê dat mense in rystoele nie welkom is nie.

Daarom wil ek net ’n groot dankie sê vir mense wat omgee en ’n helpende hand uitsteek en nie omgee om ander daarop te wys dat ons ook geregtig is op ons plekkie in die son nie. En natuurlik, spesiale dank aan ’n onbekende vrou wat verstaan dat ons mense is al is ons in rystoele.

This entry was posted in Gestremdheid, Inkopies and tagged , , . Bookmark the permalink.

9 Responses to Rystoel onvriendelik

  1. Dis werklik hartseer dat mense so ongevoelig kan steen teenoor die wat spesiale behoeftes het soos jy. Ek is bly dat daar wel iemand was wat bereid was om ‘n helpende hand uit te steek.

    • klippie sê:

      Ag, miskien besef mens dit eers as jy self in die bootjie is of so iemand ken. Maar ek dink regtig personeel moet beter opgelei word om ons behoeftes te verstaan.

  2. MaanKind sê:

    Ek belowe die volgende rystoel wat ek sien, gaan ek spesiale moeite doen. Spesiaal vir jou, maar jy gaan dit nie weet nie, en iemand anders gaan die voordeel kry.

  3. seegogga sê:

    Maar ek moet se, ons het rystoelkliente en dan maak ons ‘n ander deur oop sodat hulle nie hoef trappies op te sukkel nie, en ons personeel is baie hulvaardig, al het hulle nie altyd die kennis van gestremdes nie.

  4. Ek wonder altyd oor die obstruksie op die gestremde parkering. Moet die die mens gou in sy rolstoel spring en dit uit die pad sleep om te parkeer?

    • klippie sê:

      O nee, jy weet nie die helfte van die storie nie. Meeste mense in rystoele bestuur nie self nie, en moet dus noodwendig saam met iemand anders iewers heen gaan. Nou is die reeling by die lisensie-owerhede dat slegs gestremde mense wat self bestuur plakkers in hulle motors mag he. En slegs mense met sulke plakkers kan op gestremde parkeerplekke parkeer. Die ding is, soos my dogter se, nie dat sy so naby die winkel, biblioteek ens wil parkeer nie, maar dat die parkeerplekke vir gestremdes groter is en dat mens die deur wyer kan oopmaak en daar plek is vir die gestremde om uit en in te klim. Moenie dink net omdat jy met ‘n rystoel oor die weg kom kan jou dogter, man, vriendin ens daar parkeer nie. Die wiele word geklamp en jy kry ‘n boete, maak nie saak hoe hard jy baklei nie. So my dogter parkeer gewoonlik oor twee gewone parkeerplekke en krap baie mense om omdat sy “nie kan parkeer nie”.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s