Troues

Troues het darem ’n manier om tot ons vrouens te spreek. Dis nou na aanleiding van die koninklikes se troues die afgelope paar maande wat so ’n indruk op ons gemaak het. Die een bruid was stralend en die ander een met so ’n hartseer gesiggie. Maar sal ons ons kan indink hoe dit voel om te trou met die hele wêreld so oë op jou?

Maar nou, om terug te kom na ons gewone mense se troues. Daar is die aanloop tot die vasstel van die datum en dan die groot beplanning. Vir die bruid is die rok en wat die bruidsmeisies gaan dra, een van die belangrikste besluite en baie persoonlik. Dit kan aan enige ouer hoofbrekens besorg, veral as die keuse van trourok die hele begroting van die troue opvreet.

In die tussentyd moet besluit word op die “venue”. Want daar is net soveel plekke om van te kies en as jy daar kom, is meeste van hulle al reeds bespreek vir die datum wat jou dogter beplan het. Alles klink vir my onbekostigbaar duur, en daar moet gewik en geweeg word tussen venues wat alles voorsien of ’n plek waar net ’n onthaal gehou sal word.

Dan bekyk mens die gastelyste. Alles word noukeurig bepraat en bespreek. Moet mens net nabye familie nooi, of mense wat jy voel regtig omgee vir jou? Die dae van ’n troue hou waar al wat familielid en vriend welkom is, is verby. Nou word dit noukeurig uitgewerk aan die hand van die begroting.

Wat sal vir ete bedien word? Hou jy van buffetstyl of moet dit ’n aansitete wees? Wat van die spyskaart? Hoeveel mense is allergies vir vis? Is daar van die vriende wat halaal eet? As dit ’n aansitete is, moet die bruidspaar mooi dink oor die verskillende geregte en seker maak dat almal genoeg sal kry.

Soos die groot dag naderkom, moet mens beplan wie by wie aan tafel gaan sit. Tant Sannie praat nie met oom Sarel nie, so dink moet jy dink. Mense soos Ouma wat bietjie doof is, kan ook nie sommer by enige tafel ingepas word nie. Nou is daar nog al die ekse wat ver uitmekaar moet sit en soms is daar selfs tussen die bruid en die bruidegom se ouers ’n effense tweespalt. Nou sien ek die nuwe neiging is dat aparte tafels vir die ouers gedek word.

As die gastelys en die hoeveelheid gaste uitgesorteer is, volg die kwessie van drank. Word daar net sjampanje voorsien vir heildronke en dan ’n kontantkroeg vir die gaste. Word daar ’n paar bottels wyn per tafel voorsien of is die bruidegom se ouers bereid om vir al die drank te betaal? Of plaas hulle ’n perk op die bedrag drank wat gedrink kan word?

Blomme moet georganiseer word. Blommerangskikkings vir die kerk en die venue moet gekies en beplan word. Wat daarvan as die blomme wat jy wil hê nie in seisoen is nie?

Uiteindelik breek die groot dag aan. Daar is ’n geskarrel en senuwees wat uitrafel, hare wat gedoen word en grimering wat eksieperfeksie moet wees.

Dan uiteindelik sit almal in groot afwagtig vir die binnekoms van die bruid. Almal se oë is op die rok. Ja-nee, dis regtig die bruid se dag. Ouers gloei van trots as die skone wese die gang afstap aan pa se arm. Al die koste en beplanning was die moeite werd.

Aan die einde kan ons sê ons meisiekind se dag was wonderlik. Die onthaal sonder haakplekke en die joligheid wat tot na middernag toe aangegaan het. Nog wonderlike herinneringe oor my kleinkinders wat ek so nou en dan uit my herinneringslaai opdiep en afstof.

This entry was posted in Familie, Herinneringe. Bookmark the permalink.

4 Responses to Troues

  1. MaanKind sê:

    My suster se seun gaan op ‘n boot op pad na Mosambiek trou, klink vreeslik lekker!

  2. Toortsie sê:

    My seun het so pas getrou. Hoe voel ek dan skielik weer gespanne toe ek al hierdie dinge lees? Op die ou end is als so lekker en beslis die moeite werd!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s