Nuwejaarsvoornemens

Hoeveel van julle nuwejaarsvoornemens het werklikheid geword?

Aan die begin van die jaar besluit ons mos om te verander aan dinge wat partykeer nie nodig het om te verander nie of, soms, wel dit wat nodig is om te verander, soos om op te hou rook. Dis nou al amper sewe maande later en nou is dit tyd vir bestekopname: wat het ek reggekry van my nuwejaarsvoornemens?

Om minder te eet. Wel, ek kon nog nie daai belofte aan myself gestand doen nie. Wat is dan makliker om nog ’n blokkie sjokolade of nog ’n  koekie in my mond in te druk? Veral as dit lekker is.

Om geduldiger te wees. Wanneer ek iets doen, moet ek probeer om meer tyd daaraan te spandeer en minder foute te maak, nie alles so vinnig moontlik doen sodat ek by die volgende ding kan uitkom nie.

Nie alles glo wat daar oor iemand geskryf word nie. Met ander woorde, wanneer iemand opgehemel word en dit klink of die son uit hom of haar skyn, moet ek nie verbaas wees as ek later lees dat daardie persoon een of ander sotheid aangevang het nie.

Om minder te kla. Ek probeer baie hard, maar het dit nog nie heeltemal reggekry nie, veral nie op ’n dag soos vandag wanneer die pyne ekstra seer is nie.

Dan, iets wat buite my beheer is, maar waaraan ek hard werk: ek wil so graag ’n kompetisie wen. Maar, helaas, dit lyk nie of dit hierdie jaar sal realiseer nie.

So kan ek maar opnoem. Iewers oortree ek my eie voornemens. Ek troos my daaraan dat daar darem nog vyf maande van die jaar oor is waarin ek kan probeer om die dinge gedoen te kry.

Aan die ander kant, het ek darem ’n paar oorwinnings behaal. Ek kan darem nou al by ’n bargain verbyloop sonder dat ek voel ek gaan iets verloor. Dis nogal ’n prestasie vir my. Nou hoef ek nie meer so skelm-skelm my winskopies by die huis insmokkel nie. Nog ’n prestasie is dat ek die roomysstalletjie deesdae heeltemal miskyk. Aan die ander kant, het ek ’n nuwe craving bygekry: biltong. Gelukkig kom ek nie baie naby die slaghuis of biltongwinkel nie. Ag, as ek net aan so ’n vet stukkie biltong dink, dan water my mond. En wat is lekkerder om aan te peusel terwyl mens na die rugby kyk?

Toe ons kinders wat, het mens mos, wanneer jy iets gewens het, dit speel-speel in jou handpalm toegevou. Na ’n rukkie het jy jou hand oopgemaak en jou wens uit jou hand uit die wêreld ingeblaas. Dan het ons geglo jou wens sal waar word. Nou is my wens net dat ek, ten spyte van al die voornemens wat ek nog nie bereik het nie, gelukkig sal wees.

This entry was posted in Keuses, Kos, Uncategorized and tagged . Bookmark the permalink.

2 Responses to Nuwejaarsvoornemens

  1. Ek het myself weereens voorgeneem om nie my mond aan vissmeer te sit nie. Ek hou by die voorneme. 😉 Help natuurlik baie dat ek nie vissmeer eet nie.

    Klippie, ek het ‘n kompetisie van waar die oudste blogger wat ek ken ‘n prys kan wen wat ek self gemaak het. Ek sal jou binnekort kontak oor waar ek dit kan laat aflewer (hopelik voor die einde van 2011.)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s