Die vurk in die pad

’n Keuse is soos ’n klippie wat jy oor die water laat spring. Hoe verder die klippie wip, hoe groter rimpelings laat hy agter. Net so beïnvloed die keuses wat mens maak ook jou lewe.

Mens kan natuurlik nie vooraf al die gevolge van so ’n keuse voorsien nie want keuses kan verreikende gevolge hê. Soms loop die ding wat vir jou so reg gelyk het aan die begin op ’n algehele gemors uit. Mens kan nie teruggaan op jou pad om die gevolge na willekeur te verander of die besluit oor te neem nie. Dan sê jy by jouself: “Het ek maar net geluister na so en so se raad, het ek nie nou met hierdie probleem gesit nie.” Daar is baie jong mense wat hulle hare uit hulle kop kan trek oor hulle besluit om die eerste keer met dwelms te eksperimenteer wanneer hulle later in die web vasgevang is en nie die gewoonte kan verbreek nie.

Elke dag maak mens keuses, party eenvoudiges, soos wat jy vir ontbyt gaan eet en anders wat die hele beloop van jou lewe kan beïnvloed.

Byvoorbeeld, jou keuse oor ’n loopbaan. Dit is een van die groot besluite waaroor jong mense lank en hard dink maar niemand kan voorspel of jy gelukkig of ongelukkig met die keuse gaan wees en of jy gelukkig gaan wees in daardie bepaalde beroep nie. Hoe sal jy weet of jy dalk vir die res van jou lewe gaan wonder of jy nie maar eerder ’n ander keuse moes gemaak het nie want dan kon dit miskien beter uitgewerk het.

Jou besluit oor ’n lewensmaat, is een van die belangrikste keuses wat jy moet maak. Ons ouer garde het altyd gesê: “Trou is nie perdekoop nie” want dis ’n besluit wat jy oopkop moet maak. Moenie dat die verliefdheid jou verblind nie; daarom is dit belangrik om die kat maar eers goed uit die boom te bekyk. Besluit of jy bereid sal wees om saam met daardie persoon sewe sakke sout op te eet.

Ons moet op die ou einde ook met ons keuses saamleef. Soms is mens geneig om die blaam vir iets wat verkeerd loop op iemand anders te plaas. Dis maklik om te sê: “As dit nie vir sus of so was nie, het ek nou al lankal my droom bereik.” Dan vergeet mens gerieflikheidshalwe van die besluit wat jy self geneem het.

In die ou dae het ons gepraat van ’n “haelgeweertroue”. Dis nou wanneer die meisie swanger geraak het en die jong man is aangesê om met die meisie te trou sodat beide die families nie in die skande gesteek sou word nie. Natuurlik was daar jong mans wat hulle toe so vinnig as moontlik uit die voete gemaak het en die meisie met die gebakte pere laat sit het. Maar soms was so ’n huwelik die voorloper van ’n baie lang en gelukkige getroude lewe. Selfs in so ’n geval sou ’n oor-en-weer verwytery nie die saak verander het nie want dit was ’n keuse wat gemaak is.

Wanneer iets skeefloop moet jy nie die skuld op iemand anders of die omstandighede plaas nie. Kyk eers of die keuse wat jy gemaak het nie tot daardie omstandighede bygedra het nie.

This entry was posted in Keuses and tagged , , . Bookmark the permalink.

2 Responses to Die vurk in die pad

  1. MaanKind sê:

    Jou laaste sin. Dis wel waar, maar hoe verander jy aan wat gebeur het? Mens kan tog nie bly terugkyk nie, jy moet tog vorentoe kyk

  2. Pingback: Keuses | Klip in die bos

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s