Winter in my hart

Hopelik beleef ons nou die laaste van die erge winterkoue. Daar is niks wat my so weemoedig stem as ’n grys, winderige dag nie. Dit voel so al asof die hoop wat ek nog gehad het ook ’n lelike knou weg het.

Ek het vroegoggend gesels met my suster en sy het my vertel van die allerheerlikste boottoer van ’n volle 14 dae. Hoe heerlik warm die weer was en hoe hulle in koel somersklere kon rondloop. Op hierdie oomblik kan ek my nie indink dat daar iewers op die aarde ’n warm kolletjie is nie. My gedagtes sê vir my dat dit maar oral so trietserig moet wees. Selfs in my binneste neig dit al hoe meer na die donkerte en ek onthou al die seerkry en bekommernisse.

Dan onthou jy weer dat daar ’n winter moet wees voordat die somer kan aanbreek. So gaan dit mos maar met ons almal: een dag in die diepste dal van ellende, dan onverwags is daar ’n helder lig. Vergete is die moeilikheid en gaan ons met blymoedigheid aan met wat aan ons uitgemeet is vir die dag.

Op my lewenspad was daar baie winters. Alles het doodgeryp gevoel. Daar was twyfel en angstigheid oor wat môre gaan gebeur. Dan het lente uit ’n onverwagte oord aangebreek. Dinge het weer begin sin maak en die son het stadig maar seker weer helder begin skyn. God het ons gelukkig die versekering gegee dat Hy jou nooit ’n las sal gee wat jy nie sal kan hanteer nie.

Op gesondheidsvlak wil ek partykeer sommer handdoek ingooi. Dan sien ek iemand wat nog slegter daaraan toe is as ek en moet ek my kop in skaamte laat sak want baie keer dink mens mos in jou gemoed dat dit onregverdig is dat jy so moet swaarkry. Nou hinkepink ek maar voort en sê dankie dat ek myself nog kan help en nie geheel en al van ander se hulp afhanklik is nie.

Dink net as jy dalk aan Alzheimers ly en nie eens meer jou kinders kan herken nie? Dan dank ek die Here dat ek nog redelik kan onthou en dat ek nog nooit enige van my geliefdes se verjaarsdae vergeet het nie.

Wat is ’n oumens sonder herinneringe? Die teruglewe is vir ons baie belangrik, partykeer totdat die jonges se geduld met ons op is. Dan vergeet ons gerieflikheidshalwe van die tye toe ons oupas en oumas vir ons van hulle ervarings wou vertel en ons net so ongeduldig met hulle was. Gelukkig kan ons nou op ander manier onthou, soos byvoorbeeld deur my blog, sonder om ’n oorlas van onsself te maak. Een ding is seker, die wiel draai en eendag is jy ook oud en is jou herinneringe dalk ook helderder as die daaglikse sleur.

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

5 Responses to Winter in my hart

  1. seegogga sê:

    Ai, die herinneringe- ek het glad ‘n gediggie daaroor geskryf! Gelukkig dat daar sulke goed is soos blogs en dagboeke!

  2. MaanKind sê:

    Klippie! Jy skryf so pragtig! Doen jy ‘n rubriek vir julle plaaslike koerant? Jy behoort!

    • klippie sê:

      Ek wens! Ons bly mos in die land van die Engelse, hier is geen Afrikaanse koerante beskikbaar nie. Net om die Beeld te koop, beteken soms ‘n rit van ‘n halfuur. Gelukkig kan mens dit darem op die Internet lees.

  3. Alzheimers is ‘n nagmerrie!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s