Die huisdokter

Dis ’n plesier om na my huisdokter te gaan. Hy behandel jou soos een van sy familie. Knoop altyd eers ’n geselsie aan oor alles behalwe jou probleem. Dan vertel hy jou van sy familie en maak ’n paar grappies. Na al sy pittige sêgoed is jy so ontspanne dat jou bloeddruk sommer aansienlik gedaal het teen die tyd dat hy dit meet.

Nou die ander dag toe ek hom gaan sien het, sê hy dat hy vir my “kannie worry”-pille sal voorskryf dan sal my gemoed sommer baie ligter wees. Toe vertel hy die grappie oor die dokter wat, ’n paar jaar gelede, self pille voorsien het uit sy eie apteek. Dit was winter en die dokter was baie besig. Oom Gert kom kla toe oor sy maagprobleem. Die dokter vat ’n houer pille en skud toe sommer twee vir oom Gert uit: “Drink dié nou dadelik, Oom, en wanneer jy by die huis kom drink nog twee. Dit behoort die maagwerkings te stop.” Later die dag neem die dokter toe inventaris van die pille in sy apteek en besef dat hy vir oom Gert Valium in plaas van Immodium gegee het. Hy raak bekommerd want sê nou net oom Gert het iets oorgekom van al die Valium? Hy spring in die kar en ry plaas toe. Oom Gert is besig om in die groentetuin te werk. Hy is besmeer so groot as wat hy is. Toe die dokter hom vra hoe dit gaan, sê oom Gert: “Die maag werk nog. Maar weet jy, Dokter, ek kan nou nie meer worry nie.”

Toe sê my dokter hy kan ook vir my daai pille gee vir die pyn.

My dokter is nou regtig een met goeie “bedside manners”. Omdat hy jou op jou gemak laat voel, vertel mens hom sommer alles wat pla. Nooit laat hy jou voel asof jou klagtes sommer ipekonders is nie.

Hy kan ook nogal reg diagnoseer. ’n Paar maande gelede het hy my na ’n neuroloog verwys wat toe ’n scan van my kop laat neem het. Toe sê die neuroloog dat my dokter ’n groot present moet kry want hy het die probleem raak gediagnoseer sonder dat hy eers ’n scan laat neem het.

Daarom is dit nie vir my ’n las om dokter toe te gaan nie. Ek weet hy sal my nie sommer vir elke bakatel spesialis toe stuur nie. Daarby verstaan hy dat geld maar skraps is en die mediese fonds gou uitgeput raak en skryf goedkoper medisyne voor. En, beste van alles, hy laat my nie soos ’n suurstofdief voel nie: hy gee regtig om.

This entry was posted in Dokters, Ipekonders, Oudword and tagged , , . Bookmark the permalink.

One Response to Die huisdokter

  1. MaanKind sê:

    Ons het net so gawe een. Deeglik ook!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s