Terrible two’s

Tweejaar tantrums het ek gehoor is nogal erg by party kleuters. Miskien was ons te besig in daardie tyd om die pot aan die kook te hou dat ons ons nie daaraan gesteur het nie. My man het altyd gesê dat ’n plat hand ’n skoppende kind gou van die vloer af optel. Maar die jare stap aan, opvoeding verskil van geslag tot geslag en elke ouerpaar hanteer dit deesdae anders.

Omdat my agterkleinkind nou in daardie “terrible two” stadium is, vind ek uit dat ons dit nie ondervind het soos wat hulle dit nou met sielkundige kennis saam ervaar nie. Die outjie weet wat hy wil hê. Nog ’n paar maande gelede was spaghetti bolognaise (wurmpies) sy geliefkoosde dis, eintlik enigiets met ’n tamatiesousie by. Sy ma het vir hom heerlike bolognaise gemaak, met knoffel en vars basiliekruid en hy kon nie genoeg daarvan kry nie.

Vir ontbyt het hy saam met sy pa elke oggend muesli met joghurt op geëet. Nou weier meneertjie volstrek om dit so te eet. Die muesli moet droog wees. En dan sal hy die joghurt apart eet, dankie.

Gee vir hom bredie wat ’n bietjie souserig is en hy weier om te eet. Sy wurmpies moet ook nie met ’n sousie bedien word nie; hy verkies om dit een-een droog te eet.

Die ander aand het hy verseg om sy kookkos te eet. Toe beduie hy vir sy ma hy wil tuin toe, marsjeer toe na die groentetuin en pluk vir homself handevol rou ertjies. Eet dit smaaklik op en beduie toe dat hy nou genoeg gehad het, dis tyd om te gaan bad.

Aarbeie en bloubessies is sy geliefkoosde vrugte. Sy eerste woord wat hy gesê het na pappa en mamma was “aarbei”. Vir hom is dit ’n wonderlike ervaring om op ’n uitstappie na die aarbeiplaas te gaan en self aarbeie te pluk. Dan is hy in sy element en eet soveel as hy kan. In sy ma se tuin is daar ook ’n paar aarbeiplante en hy kyk die aarbeie behoorlik ryp. Sodra hulle net begin verkleur, pluk hy die vrug en eet smaaklik daaraan.

So klein as wat hy is, weet hy al watter stories sy ma vir hom moet lees. Sy geliefkoosde boek is van die Gruffalo – of soos hy in Afrikaans genoem word, die Goorgomgaatjie.

Van kleins af is hy lief vir diere en is hy geleer watter geluide diere maak. So as sy ouma Skype moet sy vir hom sing of prentjies van diere wys. Hy ken ’n geluid vir elke dier: ssss vir slang, zzzzzz vir bye, geluide vir zebras, olifante, leeus, tiers en natuurlik ook vir mak diere soos koeie, skape, perde, hoenders. Dan het hy ook aksies wat hy uitvoer vir ander diere: ’n mond wat oop en toe maak vir visse, op die bors kap vir gorillas, lang tong vir kameelperde (na aanleiding van ’n foto waar die kameelperd se tong uitsteek), hande in die vorm van ’n groot bek wat dan toeklap vir krokodille. So Ouma is altyd voorbereid met ’n boek of twee om foto’s van die diere waarvoor hy vra, vir hom te wys.

Ek verstom my maar net oor hoe die kind, op sy ouderdom, al presies weet wat hy wil hê of wil hoor of sien. My kleindogter sê vir my dat dit nie tantrums is nie, maar dat die kind, omdat hy alreeds weet waarvan hy hou, maar nie altyd die woordeskat het om dit oor te dra nie, jou wil laat verstaan wat hy wil sê. Nou ja, so is mens nooit te oud om te leer nie.

This entry was posted in Familie, Gewoontes, Kinders and tagged , . Bookmark the permalink.

6 Responses to Terrible two’s

  1. murphy sê:

    Gelukkig is myne daar verby!

  2. MaanKind sê:

    Hy hlink ‘n vasberade mannetjie! Ek het beleef hoe my 2-jarige kleinkind in die Spar op die vloer gaan sit het en haar kop op die vloer gekap het van boosaardigheid omdat ek haar inkopies weer uitgelaai het. Toe verduidelik nie help nie, het ek dit stilletjies uitgelaai. Toe tantrum sy. Ek kon nie glo wat ek sien nie!

  3. Son sê:

    Ek gaan nou seker iets sê wat baie mense my voor gaan afskil, maar al wat vir ‘n vloermoer help is ‘n goeie pak slae. Klaar. Dis goed om ‘n kind te leer om selfgeldend te wees en om sy intelligensie te voed (jou agterkleinkind klink vir my baie baie intelligent), maar ‘n kind moet ook leer dat daar soms vir hom nee gesê word en dat hy dit moet aanvaar.

    • klippie sê:

      Ons het mos nie verniet die spreekwoord in Afrikaans nie wat se: ‘n Pak op sy tyd is soos brood en konfyt.
      Ek het hier maar net van die outjie se giere vertel en het nie op die kwessie van dissipline ingegaan nie. Dit sal lei tot ‘n hele polemiek waarvoor ek nie op my oudag lus is nie. Hoe dit ook al sy, ek dink dat indien kinders gedissiplineer word, dit met liefde en insig deur die ouers gedoen moet word.

  4. seegogga sê:

    Die beste is om so ‘n vloermoer te ignoreer of die aandag af te lei met iets anders.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s