Amper lente

Nou die oggend het dit gereën terwyl die sonnetjie so bleek-bleek geskyn het. Toe dink ek aan die gesegde van ons kleintyd: Jakkals trou met wolf se vrou. Hoekom ons so gesê het, weet ek tot vandag toe nie.

Eintlik wou ek net graag gehad het dat die son vir daardie dag moes skyn. Op so ’n dag lyk alles so bedremmeld en my gemoed word so maklik beïnvloed deur die grys van ’n wintersdag. Dan kan ek myself nie indink dat dit oor ’n maand lentedag sal wees nie. Wees net positief, herinner ek myself. Elke donker wolk het mos ’n goue randjie. Lente is om die draai. Net die vooruitsig van warmer dae stem my sommer baie gelukkig. As die reëntjie opklaar en die son skyn helder, is al my grys gedagtes weer iets van die verlede.

Wat vir my so mooi is aan die vroeë lente is die jong groen blaartjies wat uitspriet. Mens kan jou verwonder daaraan dat die blaartjies die koue kan trotseer. Ekself wil darem nog nie aan somersklere begin dink nie.

Nou kan ek weer begin beplan watter plantjies ons in die lente kan plant. Ek glo mos dat mens teen die einde Julie steggies moet inlê want dan groei hulle almal. Dit is die lekkerte van die groeiseisoen.

My gunstelingblomme was altyd malvas en azaleas. Einde Julie wêas my steggies ingelê en kon ek staatmaak dat elkeen van hulle sou groei. Ek deel plantjies aan ’n ieder en elk uitdeel. Nou is ek slimmer: ek plant nou die steggies in ’n mooi potjie en so word dit ’n verjaarsdag- of Kersgeskenk. My jongste gier is om roossteggies te maak. As ons ’n ruiker met rose in kry, kan ek nie wag vir die rose om af te gaan nie want dan het ek weer steggies om in te lê. Partykeer is ek gelukkig, want ek kry sommer ’n nuwe kleur of soort roos sonder om die duur prys daarvoor in die kwekery te betaal.

Een ding staan soos ’n paal bo water: niks kom by die lenteweer nie. As die verbleikblom begin bot en sy lieflike geur versprei, weet ek lente is nou hier. Ek dink sommer aan die liedjie wat ons so graag as kinders gesing het:

     Dis heerlike lente
die winter is verby.

Daar kom definitief ’n nuwe hup in mense se stap as die wonderlike lenteweer aanbreek. Kyk maar hoe huppel die diere. Natuurlik kan hulle dit ook aanvoel. Voëltjies begin ook weer terugkeer na hulle oorsese reise.

Nee wat, vir my ou lyf was hierdie winter ’n bietjies te hard. Gelukkig het ek ’n lekker sonkolletjie by die eetkamertafel waar ek my tyd verwyl.

Orals in die land het die lente sy eie kenmerk. Varkore wat die vleie vol staan op hulle lang stingels. Pretoria se jakarandas wat pers in die blom staan met ’n pers blommetjietapyt op die grond. Asaleas van wit tot helderrooi. Bougainvilleas in elke denkbare kleur. Die pragtige pers en pienk blomme van die Tibouchina-bome. Clivias met hulle helder oranje blomme en nou ook skakerings van geel, oranje, en as jy dit kan bekostig, rooi. Net jammer ek kan nie my gunsteling orgideë so spontaan laat uitbars in blomme nie.

Agge nee, wat ’n antiklimaks, daar is al weer ’n koue front op pad.

This entry was posted in Winter and tagged , , . Bookmark the permalink.

2 Responses to Amper lente

  1. net n ander iets sê:

    ja my clivias staan al vol in die blom
    en dei orgidee wat binnekort ook hulle bln oopmaak kan nie wag daarvoor nie. gee my maar eerder die hitte van somer dankie

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s