Tem jou tong

Hoekom is dit so moeilik vir mense om beleefd met mekaar te wees? Ongeduld en foutvind is vir ons soos asemhaal. Die raad in die Bybel dat jy met ’n sagte antwoord die angel kan uithaal, word blindweg geïgnoreer. Dis mos makliker om op jou perdjie te spring en ’n bohaai op te skop want dit haal die wind uit die ander persoon se seile. Behoede hom of haar as daar nie saamgestem word met wat ek dink reg is nie. Die beste verdediging is mos om eerste aan te val wat natuurlik lei tot nog meer konflik.

Mens moet ’n wag voor jou mond sit, tot tien tel voor jy antwoord of iets sê. Maar dis nie altyd maklik nie. Voor jy jou kan bedink, het jy alreeds weer te veel gepraat.

Tonge kan meer skade aandoen as wat jy jou kan indink. Woorde kan nooit teruggetrek word as dit eers uitgespreek is nie. Ek het gevind dat die rympie: “Sticks and stones may break my bones, but words will never hurt me,” nie regtig waar is nie. Die liggaamlike seer is al lankal vergete dan sit die seer van die woorde nog rou in jou hart. Daarom dat ek maar in my lewe probeer het om vure dood te slaan.

Waar mens werk kom jy weer met ’n ander klomp karakters in aanraking. ’n Vrou wat altyd reg is en niemand sal haar ooit kan oortuig dat sy verkeerd kan wees nie. Later vermy jy maar enige onderwerp waar sy weer haar beterweterige opinie kan lug. Nog later besef jy die eniste manier hoe jy dit kan vermy is om maar eerder stil te bly. ’n Regte boelie met die mond is sy. Dan is daar die persoon wat altyd besig is om ander af te kraak en fout te vind. Is dit dan so moeilik om liewers die vrede te bewaar?

In ’n werksituasie moet mens agt ure per dag in ander mense se geselskap deurbring. Dus het ek altyd gesê dat mens nie jou besigheid of probleme met iemand by die werk moet bespreek nie. Want sodoende kan daar nie ’n verdraaide weergawe van wat jy vertel het, versprei nie. Teen die tyd wat jy dit weer hoor, is daar verskeie stertjies aangelas. Daarom dink ek die veilige opsie is om werksake by die werk te los en huissake by die huis. My motto was altyd om nie huisvriende te maak met diegene saam met wie ek gewerk het nie. Ek het te veel gehoor hoe een of ander van die mense uitmekaar getrek is deur die stories wat daar oor hulle versprei is.

Laat ons maar erken dat daar baie stories die rondte doen, oor jou ook, want dis mos maklik om te praat. Iemand sê: “So en so het ek gesien in die mall saam met so en so van die werk.” Dit kan onskuldig wees maar daar word gegis en geskinder daaroor en kort voor lank is dit ’n affair.

By die werk het ek maar net bolangs praatjies gemaak. Die veilige opsie is om dit weg te hou van jou huisomstandighede af. Daarom dat mense sê, hou jou lewe maar privaat want dan is daar niks wat enigiemand daaroor kan sê nie.

Hoor maar al die geskinder as die werkspartytjie eers verby is. Dan is daar stories oor hoeveel jy gedrink het of hoeveel keer jy met die baas gedans het. Dis so al asof sommige mense by die partytjie meer belangstel in wat ander doen en glad nie die partytjie geniet nie. Maandag gons die kantoor weer oor al die ander se kaperjolle. So het ek besluit om eerder net vir die ete te bly en dan te verdwyn.

Dink ook daaraan dat wanneer die baas jou op die rooi tapyt het oor iets wat jy verkeerd gedoen het. Die woorde wat gesê word, brand baie keer baie dieper as wat jy aan ander sal erken. Dan voel mens onbekwaam en jammer vir jouself en is jy dankbaar dat hy (of sy) dit nie voor die ander gedoen het nie.

So my raad is dat mens twee keer moet dink voor jy iets sê wat jou later gaan laat wonder of dit nie beter sou gewees het om jou mond te hou nie.

This entry was posted in Gewoontes, Woorde and tagged , , . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s