Bad hair day

Ek blaai deur my foto-albums. Party van die foto’s is nog met ’n instamatic kamera geneem toe die kinders nog klein was. Ek verkyk my aan die klere en haarstyle.

Dan onthou ek hoe het die seuns baklei wanneer dit haresnydag was. Hulle pa het net een style geken: short back and sides. Dit was gewoonlik ’n bakleiery van die gaan-sit tot wanneer die hare klaar gesny was. Tot hulle pa op ’n dag gesê het: “Genoeg is genoeg. Van nou af sny ek nie meer jou hare nie. Jy moet dit nou maar uit jou sakgeld laat doen.”

Die oudste het ’n David Bowie haarstyl begeer maar dit was hom nooit beskore nie want hy het krulhare. Die jongste het maar gesit en die snyery verduur. As mens nou na die foto’s kyk en sien hoe hulle na so ’n haarsnyery gelyk het, kan jy goed verstaan hoekom hulle gekla het.

Bietjie verder in die foto-album verkyk ek my weer aan die rokke wat ons gedra het. Wat toe so mooi gelyk het, lyk nou sommer baie outyds. Saam met die rokke het ook die haarstyle gegaan. Daardie tyd moes ons gereeld ons hare laat “perm”; sulke stywe krulletjies. Mens moes net nie see toe gegaan het met jou vars gepermde hare nie, want dan het dit kompleet gelyk of jy nie op die blanke strand kon swem nie, veral as jy nog lekker bruin getan was. Die Afro-styl was ook daardie tyd hoogmode, so nou kan  jy jou indink hoe ons toe gelyk het. Ek wil nie die foto’s graag vir die kleinkinders wys nie, want hulle lag so, jy dink behoorlik jy het soos ’n spektakel gelyk.

Later jare het ek besluit om my hare kort te dra – glad en sonder krulle. Ek noem dit sommer ’n regte waslapstyl. Gelukkig kon ek toe minder dink aan ’n indraaiery en hare wat getease moes word.

Daardie jare het mans hulle hare gebrylcream. Geen haar was uit sy plek nie al het die wind gewaai. Laat my baie dink aan die flieke van ouds ook. Al het die mans handgemeen geraak, het dit altyd gelyk of hulle nou net hulle hare gekam het.

Hoe groter die kinders geword het, hoe meer het elkeen hulle eie styl ontwikkel. Die seuns se hare het natuurlik langer geword hoe ouer hulle geword het. Met diensplig is hulle natuurlik terug na pa se styl van short back and sides. My man het lekker in sy mou gelag want na al die bakleiery met hom het hulle toe nie ’n keuse gehad nie. Na sy diensplig het die oudste by die Weermag aangesluit en so het short back and sides sy permanente haarstyl geword. Die jongste was maar altyd dwars en het verkies om sy hare lank te dra, tot sy pa se ergernis. Pa se hande het gejeuk om die haredos te tem.

My man het in al die tyd wat hy gewerk het sy hare net by een haarkapper in sy geliefkoosde styl laat sny. Na sy aftrede, en sy haarkapper ook al ophou werk het, het hy bietjie minder krities geraak oor die wyse waarop die nuwe haarkapper sy hare gesny het. Toe het sy hare ook al baie yler geword en was dit ook nie meer nodig om so baie hare te sny nie.

Nou dra beide van my seuns baard en is die bakleiery oor haresny iets in die verre verlede. Gelukkig kry hulle van hulle eie medisyne want hulle moet nou self met hulle seuns oor haarstyle stry.

This entry was posted in Familie, Herinneringe and tagged , , . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s