Bling-bling

Toe ek jonk was, was dit een van my groot begeertes om gaatjies in my ore te hê  sodat ek ook soos die ander meisies oorbelletjies kon hê. Dit was maar ’n stryd om iemand te kry wat bereid was om die gaatjies te maak. Dit was ’n hele operasie en omdat ek maar kleinserig was, het ek dit so lank as moontlik uitgestel. Ek moes eers iemand kry wat bereid sou wees om die joppie te doen.

My oom wat saam met my verjaar het, het beloof om vir my ’n paar goue ringetjies vir my ore te gee. Ek moes net sorg dat die gaatjies deurgesteek word. Ek het uiteindelik die wasvrou so ver gekry om dit vir my te doen. Eers moes sy varingstingeltjies sny wat deur die gaatjies gesteek moes word en daarna gereeld gedraai moes word sodat die gaatjies nie kon toegaan nie. Dit was alles goed en wel want ek moes nog steeds genoeg moed bymekaarskraap sodat sy die operasie kon doen.

Sy het alles byderhand gehad: naald, kurkprop en die varingstokkies. Nou was dit net vir die deursteek van die naald deur die oor met die kurkprop aan die anderkant. Die gaatjie was deur maar ek het gevoel asof sy my oor wou afskeur. Daarna het sy die varingstingeltjies deurgesteek. Ek moes net onthou om die stingeltjies gereeld te draai.

Gelukkig was dit skoolvakansie en hoef ek nie met my rooi oorlelle skool toe te gegaan het nie. Ek was baie trots op myself oor ek uiteindelik die gaatjies gekry het en kon nie wag vir my verjaarsdag sodat ek my beloofde oorringetjies kon kry nie. As mens mooi kyk, sal jy sien die gaatjies stem nie presies ooreen nie, maar dit het my min gepla, want ek kon mos ook nou oorringetjies dra.

Toe ek begin werk het, het ek vir myself groot goue oorringe gekoop en myself verbeel dat ek soos ’n sigeunerin gelyk het.

Hoekom is dit vir meisiekinders so belangrik om mooi juwele te hê? Ek onthou nog die dae toe jou oorbelle dieselfde kleur as jou rok moes wees. My ma het nooit iewers heen gegaan sonder dat sy ’n string krale om die nek en bypassende oorbelle aangehad het nie. Noudat ek ouer is dra ek nie eens meer oorbelle nie en die gaatjies het lankal toegegroei. Ek lag darem lekker as ons iewers heen ry en my dogter het vergeet om haar oorbelle aan te sit. Sy is dan sommer ongelukkig want sy sê sy voel kaal daarsonder.

This entry was posted in Gewoontes, Herinneringe and tagged , . Bookmark the permalink.

One Response to Bling-bling

  1. MaanKind sê:

    Teen die tyd wat ek gaatjies gekry het, was ek al getroud en is dit so ingeskiet

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s