Bye en heuning

Bye word al skaarser. Mens sien net so hier en daar een op ’n blom. Toe het ek nou die dag gehoor dat dit glo ’n wêreldwye probleem is. Sommige mense gee selfoonmaste die skuld daarvoor. Ek is nou nie juis op hoogte van die oorsake van die minderwordende bye nie maar ek weet wel dat die by noodsaaklik is vir die bestuiwing en voortplanting van ons blomme en voedsel.

Daar is ook mense wat beweer dat die oorsaak van die minderwordende bye geneties gemodifiseerde saad is. Hoe dit ook al sy, ek weet net ons foeter te veel rond met die natuur. Tot ons eie nadeel is die mens dan die vernietiger van ’n lewensnoodsaaklike inseksoort. Bye vroetel ywerig tussen die blomme en dra sodoende stuifmeel van die een blom na die ander oor en sorg so dat bevrugting plaasvind. En hoekom vernietig ons hulle? Alles ter wille van tegnologie. Meeste mens dink nie eers twee keer daaroor nie.

Ek let dit veral op noudat die nuwe seisoen se blomme so een na die ander oopgaan en ek sien regtigwaar baie minder bye rondzoem.

Ons het groot geword met die gedagte dat alles altyd dieselfde sal bly voortbestaan. Maar dan word ons wreed ontnugter. Mense wat navorsing doen, diere kloon, beenoorplantings en nou selfs gesigsoorplantings doen, dink dat hulle die hef in die hande het. Soms wonder ek of dit regtig vooruitgang is of gaan ons ’n tree agteruit? Gee ons nie te veel prys ter wille van nuwe uitvindsels of prosesse nie?

Kyk mens na die plate veldblomme wat so asemrowend mooi is, wonder jy wat sal gebeur as daar geen bye is nie. Hopelik kom dit nie so ver nie en leer die bye om by die selfoonmaste aan te pas of begin mense meer organiese kosse produseer sodat ons weer meer bye kan kry.

Al die gedagtes aan die bye, en Toortsie se skrywe, bring ou herinneringe terug. Ek kan nog onthou hoe my pa Saterdag teen skemertyd die byekorwe gaan uithaal het. Die heuningkoeke was vet van die heuning. My oupa het gehou van jongbyheuning, met ander woorde, heuning waarin die klein bytjies nog vasgesit het. Ek weet nie hoe hy dit in sy liggaam kon inkry nie. Vir ons was dit die lekkerste om die heuning so uit die was uit te suig. Te heerlik.

Om heuning te kry, het ons die heuningkoeke in ’n skottel gelos sodat die heuning kon uitdrup. Die volgende dag het ons dit in bottels verseël.

Heuning is vir baie kwale en skete gebruik: saam met appelasyn vir ’n seer keel, om sere wat nie wou genees nie te dokter. Nou gebruik mense dit in tee of koffie of oor die pap in die oggend.

’n Heuningkorf is baie fassinerend. Elke vakkie is volmaak seskantig. Dan besef ek weer dat God se handewerk nie vervangbaar is nie.

This entry was posted in Herinneringe, Natuur and tagged , . Bookmark the permalink.

7 Responses to Bye en heuning

  1. MaanKind sê:

    Is jy seker jy is nie my ma wat skelm blog nie? Regtig. Alles stem net so ooreen!

  2. toortsie sê:

    Jy het ook vir MY herinneringe teruggebring. Heuningkoek. ag hoe lekker!!

  3. Son sê:

    Klip – ek werk vir Omgewingsimpak Spesialiste en werk baie met die nuwe groen energie (windplase en sonkrag) en ons moet nou ook studies doen oor die impak wat enige van hierdie sal he op bye wat ook in die omgewing van sulke beoogde plase is. Ek dink die mense het reeds wakker geskrik en probeer die bye nou beskerm. Ek het nooit eers geweet dat vlermuise ‘n bedreigde en beskermde spesie is nie en oor hoe belangrik hulle vir die ekologie is nie.🙂

  4. kyker sê:

    Vlinders en motte is ook iets wat elke dag skaarser word. Ons is besig om baie van die natuur se mooiste dinge te vernietig sonder dat ons dit besef.

    Ek het ‘n vriend in Chile wie se broer erg rumatiek het. Hy gaan elke twee maande vir spesiale behandeling: Die dokter sit ‘n paar dosyn bye op sy arms en bene sodat hulle hom steek. Dit verlig sy rumatiekpyn merkbaar en dan kan hy weer ‘n paar weke lank uithou.

    • klippie sê:

      Dis baie interessant. Ek weet van ‘n paar mense wat net so rumatiek het en glad nie kan of wil beweeg nie. Maar hierdie behandeling is seker nie in SA beskikbaar nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s