Feetjieland

Ek wens vandag ek was ’n klein dogtertjie wat kan glo in ’n fee wat net haar towerstaf kan swaai en alles is sommer dadelik reg. My wens sou wees nie om ryk te wees nie, maar om genoeg te hê sodat ek al my kinders en kleinkinders van die nodigste kon voorsien. Genoeg werk vir hulle om die pot aan die kook te hou, nie vir luukses nie, net genoeg.

Toe ons klein was was daar ook nie ’n oorvloed nie, maar vir ons het dit gelyk asof alles wat ons het deur ons gelukkige samesyn bewerkstellig is. En as mens ouer word, kom die ontnugtering: alles is nie maanskyn en rose nie. Alles het harde werk en baie genade gekos.

Ek weet dit klink nou onsinnig maar ek kan nog onthou hoe die feetjie in ons storieboeke van ouds alles kon regtoor. Nou besef ek dit was maar net kinderdrome. Die lewe bestaan nie uit feeverhale nie.

Die harde werklikheid staar ons elke dag in die oë. Werk is skaars en al stem jy nie met die baas saam nie, moet jy hou wat jy het. Daar is soveel ander wat maar te bly sal wees om jou plek te vul.

Probeer iets skep wat jyself kan bemark. Ook dit verg baie uithouvermoë en ’n dik vel om al die negatiewe reaksie te trotseer. Die feetjie se staf kan ongelukkig nie vir jou onmiddellike sukses waarborg nie.

My tweede wens sou wees om net weer lekker te kan loop. Ek dink nou met hartseer terug aan al die dae wat ek so ongeduldig met my ma was wanneer sy gekla het oor die pyn in haar knie. Noudat ek self in daardie posisie is, probeer ek maar uithou en nie so baie te kla nie. Ongelukkig kan ek nie altyd meedoen aan die pret nie. Ek wil tog ook nie soos ’n seer tand uitsteek en ’n nat vadoek wees nie. Maar ek wil so graag weer op die strand stap, die sand tussen my tone voel deurkruip. Feëtjie, waar is jy nou? Kom, swaai bietjie jou staf!

Saam met die lekker loop, kom daar sommer ’n paar ander dinge by: lekker draairoomys eet sonder dat ek op my rok of bloes mors, spookasem eet saam met die kleintjies, die verwondering in die kleintjies se oë waarneem wanneer hulle vuurwerke sien.

Aan ouderdom kan die feetjie ongelukkig ook niks doen nie. Die een uitweg is om maar ’n knievervanging te kry. Ongelukkig is die mediese bybetaling net te hoog. So, hou maar uit, en vergeet van stap op die strand. Eet kan ek darem nog en dan kan ek my maar verbeel ek is weer klein en ek geniet my roomys en spookasem sonder die fee se staf.

Nou twyfel ek of tienjariges nog aan feetjies glo. Hulle is te nugter, vra sommer reguit of Ouma regtig aan sulke snert glo. Toe my kinders klein was, wou al wat ’n dogtertjie was die feetjie in die skoolkonsert wees. Nou speel hulle eerder Harry Potter en sy trawante. So vlieg ook my kinderdroom by die venster uit.

This entry was posted in Oudword, Ratrace and tagged , , . Bookmark the permalink.

One Response to Feetjieland

  1. MaanKind sê:

    Ouma sal maar net moet aanhou om die magic in hulle lewe terug te toor. Ek het pas nou net ‘n stoffertjie geblog, dalk kan hy toot ook. Gaan probeer bietjie!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s