Maanskyn en rose

Maanskyn het ’n betowering van sy eie. My slaapkamer het dakvensters, so as dit volmaan is, skyn die maan op my bed. Wanneer daar nie wolke in die lug is nie, skyn die maan so helder dat ek nie eens nodig het om die lig aan te skakel wanneer ek badkamer toe gaan nie. En as die slaap my ontwyk, kan ek my verbeel ek staan buite en hou die maan dop.

Ek wonder of kinders nog na die maan kyk. Hulle is so besig met al die nuwerwetse speelgoed en om met maats op Facebook en Twitter te praat. Wanneer ons by my seun in Mpumalanga kuier waar daar nie straatligte is nie, lyk die maan en sterre so naby asof jy dit met jou hande kan raakvat. Kom jy terug stad toe, is dit maar net nog ’n nag.

Daar word baie stories rondom die maan geweef. Romanse wat tot blom kom wanneer die voornemende vryer die meisie vra om met hom te kys in die lig van die volmaan. Hoe ver dit waar is, weet ek nie, maar daar is mense wat beweer dat wanneer vis gevang word en die maan daarop skyn, word die vis gou sleg. Kan dit waar wees?

Toe ons klein was, het my ma altyd bepaal of dit gaan reën deur na die maan te kyk. Wanneer dit sekelmaan is en die maan hel so skuins af, het die ou mense gesê dit kom reën want hy het genoeg geskep, hy gaan nou uitgooi. My ma het altyd die kalender dopgehou voordat sy saad geplant het, want dit moes volgens die stand van die maan geskied. Toe het ek nie gevra nie, maar noudat ek daaroor skryf wonder ek hoe die maan die groei van die plante beïnvloed het.

Daar is die gesegde dat mens met die maan gepla is as jou kop nie so lekker aangeskroef is nie. Ons praat ook van die man in die maan en iemand wat jou die son, maan en sterre belowe het.

Die maansverduistering so ’n paar maande gelede het ook mense genoop om weer na die maan te kyk. Daar is mense wat glo dat ’n maansverduistering die dood van een of ander belangrike persoon aankondig. Dan is daar ook natuurlik ’n bloumaan wanneer daar twee volmane in een maand is. Ons ken dit natuurlik beter in die Engels: “Once in a blue moon.”

Toe ek nog ’n kind was, het die ou mense vir ons gesê dat die maan van kaas gemaak is. Ek wou altyd weet hoekom die kaas dan so krimp en groei. Tipies van daardie tyd, het my oupa altyd met ’n skewe glimlag geantwoord: “Dit is maar soos dit is.”

This entry was posted in Bygelowe, Natuur and tagged , . Bookmark the permalink.

2 Responses to Maanskyn en rose

  1. seegogga sê:

    met volmaan sien jy hasie kalbassie en die maanman wat by die tafel sit en eet.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s