Bemoediging

’n Sms wat ek vroegoggend ontvang het, het my laat nadink oor wat nou belangrik is vir my om te koester.

’n Graadsertifikaat het ek nie, so wat ek weet is maar die lesse wat ek uit persoonlike ondervinding geleer het. Ook het ek nie ’n grand kar nie, ek kan self nie eens bestuur nie, so dis ook maar ’n pypdroom. Rykdom is maar net my gesin en vriend, mense wat jou deurdra as die pad vorentoe maar steil voel en lyk.

In my lewe het ek geleer dat al die geld en besittings wat mens versamel nie die vertroosting bring wanneer lewenstorms jou tref nie. Wat is nou meer vertroostend wanneer jy slegte nuus ontvang as die meelewing van iemand na aan jou. Iemand met ’n bekertjie warm sop as dit voel asof almal jou verlaat het. ’n Simpatieke oor om as klankbord te dien as jy glo dat almal hulle rug op jou gedraai het. Die dag as jy van die dokter af kom met ’n diagnose wat jou verpletter het en iemand is daar vir jou wat jou laat huil tot jy beter voel.

Met ’n groot familie is ons al verskeie kere gekonfronteer met nuus oor ’n siekte waar iemand net nog ’n paar maande oor het om te leef. Mens wil daardie persoon bemoedig maar jy voel so onmagtig. Wat sê jy? Mens probeer maar om die oorblywende tyd vir hom of haar met jou bystand en bereidwilligheid om net te luister so maklik as moontlik te maak. Dis nie maklik om so ’n persoon positief te beïnvloed nie. Mens kan maar net daar wees vir wanneer hy of sy jou nodig het.

Ek self is al deur baie moeilike situasies gehelp met die meelewing van my familie. Maar ek besef ook dat wanneer die lewenstorms om jou woed en jy voel asof alles om jou vergaan, daar net Een is wat regtig saak maak. Wanneer die storm verby is, besef jy dat dit ook nodig was.

Gelukkig is alles nie net hartseer nie. Jou grootste blydskap wil jy ook met iemand deel. ’n Nuwe baba op pad, ’n troue of verlowing, alles wil mens deel met iemand anders.

Ons is mos maar kuddemense. Wanneer ek alleen is, voel dit asof ek in ’n donker sel opgesluit is en daarom hoop ek dat daar in die toekoms altyd iemand sal wees met wie ek my sorge en blydskap sal kan deel.

Omdat ek een van vyf susters was en nogal, ten spyte van die groot ouderdomsverskille, met hulle almal ’n baie hegte verhouding gehad het, was daar altyd ’n gewillige oor om te luister. Saam kon ons baie dinge verwerk wat met ons op ons lewenspaaie gebeur het; hetsy die hartseer of blydskap of sommer net die draaie wat die lewe soms mos maak. Later, wanneer ouderdom en afstand tussenbeide tree, besef jy al hoe meer hoe jy dit mis. Een van my susters is reeds oorlede, maar gelukkig het ek herinneringe wat ek van ons vriendskap koester. Dit is iets wat ek vir altyd sal wil onthou.

This entry was posted in Familie, Herinneringe and tagged , , . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s