Leuens

Die gesegde: “Al is ’n leuen ook hoe snel, die waarheid agterhaal hom wel”, is so waar soos padda ’n manel dra. Iewers, eendag, kom die waarheid uit.

Ons het altyd vir die kinders geleer dat dit nie nodig is om te jok nie; die waarheid loop ’n reguit paadjie. As mens by die waarheid hou, hoef mens mos nie te dink oor wat jy gesê het nie, jou storie sal altyd dieselfde wees.

Ek sal my nou nie hoogheilig hou en sê dat ek nooit gejok het nie, want dit sou ’n leuen wees. Ek het ook vir die kinders van feetjies en dwergies, van die tandemuis en Kersvader wat nie bestaan nie, vertel. Is dit ook leuens? Kyk nou na die flieke wat vir kinders gewys word en sien al daardie bonatuurlike gedrogte wat mense “red”, die ry op besems sonder enjins. Te veel dinge om op te noem.

Maar terug in die realiteit: “Juffrou, ek het my boek by die huis vergeet” wanneer die kind nie sy huiswerk gedoen het nie of “Ek het ’n pap wiel op pad werk toe gehad” as jy nie betyds opgestaan het nie. Iemand het ’n nuwe haarstyl uitprobeer. Hoe vertel jy haar nou dit pas haar nie? So kan mens aangaan. Dit is maar die klein leuentjies wat ons elke dag op ’n manier beleef.

Natuurlik sal ons gewetens ons pla as ons groot leuens sou vertel, iets wat iemand anders regtig sou bedrieg. Maar ek luister na die nuus op die radio en kyk TV en besef dat alles wat mens hoor of sien nie altyd die waarheid is nie. Kyk nou maar net die koerantberigte oor mense wat met klein salarisse kan bekostig om duur huise te bou, mans wat hulle vrouens verneuk en dan “gekaap” word, mense wat by piramideskemas ingesleep word en dan al hulle geld verloor. Ek weet, hulle moes nie na die gladdebekleuenaar geluister het nie.

Daar is mense wat lieg vir die versekeraar. Nie alles wat op die lys van gesteelde goedere gesit is, is regtig gesteel nie. Maar omdat die persoon vir versekering betaal, voel hy of sy dat dit hulle toekom omdat hulle mos niks in ruil kry vir die premie wat hulle maandeliks betaal nie.

Iemand laat toe dat sy sestienjarige sy kar bestuur want hy is nie lus om die kinders fliek toe te vat en weer te gaan haal nie. Wanneer die kind dan ’n ongeluk maak, word aan die polisie vertel dat die kind die kar sonder sy toestemming gevat het.

’n Man wat laat werk omdat hy eintlik ’n skelmpie het; ’n vrou wat vir ’n naweek by haar ma gaan kuier, maar eintlik die hele naweek by die casino sit omdat sy ’n dobbelprobleem het; ’n kind wat by ’n maat gaan oorslaap maar eintlik met die maat se ouers se toestemming een of ander dronkpartytjie gaan bywoon.

So kan mens aanhou opnoem. Is ons gewetens deesdae afgestomp of is leuens, soos ons onsself soms probeer wysmaak, nodig vir oorlewing?

This entry was posted in Leefstyl and tagged , . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s