Out of fashion

Ek sit voor my klerekas. Dis daardie tyd van die jaar wat ek moet uitgooi wat nie meer pas nie of wat ek vir die afgelope jaar nie gedra het nie.

Dis ’n groot werk wat ek nie alleen kan doen nie; Angel moet help. Ons bekyk elke rok, bloes en langbroek. Sal ek dit nog ’n bietjie langer hou of sal ek dit maar in die swart sak sit vir die gemeenskapsentrum. Daar kom ek op klere af wat ek al vergeet het dat ek dit gekoop het.

Noudat ek maar selde uitgaan is my alledaagse drag eenvoudig: ’n langbroek met bypassende top want dit is makliker in die rystoel. Ek het dus minder nodig maar steeds is dit moeilik om van die klere ontslae te raak. Miskien word ek maerder dan pas die klere weer. Miskien gaan hierdie trui of baadjie weer in die mode kom.

Maar ek is ernstig, ons sorteer die verskillende kledingstukke uit. Op hierdie hoop die klere waarvan ek nie ontslae gaan raak nie. Op die ander hoop klere wat definitief nooit weer gedra gaan word nie. Dan is daar ’n kleiner hoop, die klere wat ek nie seker is of ek dit wil weggooi nie. Dis klere wat vir my ’n sentimentele waarde het. Angel gee raad en besluit dat party van die klere darem heeltemal “out of fashion” is. Selfs nie eens haar ma dra klere wat out of fashion is as sy uitgaan nie. Ek neem maar swaar afskeid. Miskien pas die bloes weer as ek net so ’n bietjie gewig verloor en die patroon van hierdie rok sal ook weer een van die dae terug in die mode wees. Daar is ook skoene wat nou glad nie meer gedra kan word nie. So alles moet voor die voet uitgegooi word. Nou bly net gemaklike skoene oor; niks met flair nie.

Na baie gelag en redekaweling kom ons darem tot ’n vergelyk. “Gogo, jy het te veel klere,” was haar uitspraak. “Raak ontslae van die klere wat net in jou kas bly hang sonder dat jy dit gaan dra.” Noudat al die onnodige klere weg is, is daar darem plek in die kas vir alles wat ek nog wil dra.

By my was dit nog altyd maar ’n groot versoeking om ’n rok of bloes aan te skaf as daar ’n halfprys etiket aan hang. Een ding is seker: met grysheid kom wysheid. Ek voel nou amper soos die Prediker: alles was maar net ’n gejaag na wind en alles het sy tyd, ook ’n tyd om te gaan. Gelukkig het meeste van die klere my darem plesier gegee toe ek dit nog gedra het.

This entry was posted in Gewoontes, Inkopies and tagged , . Bookmark the permalink.

2 Responses to Out of fashion

  1. Slakkelak sê:

    Ai Klippie, wees dankbaar jy het om uit te gooi. En glo vir my, dit wat jy weggee vir wie ook al, gaan dit waardeer. Ek weet, want ek was aan die ontvangkant van ander se uitgooigoed. Ek sit met ‘n klerekas vol klere wat ek geërf het, met hier en daar iets wat ek nou al bygekoop het. Dis wat gebeur as jou huis afbrand, jy nie versekering het nie, en gelaat word met die klere aan jou lyf. En ek is DANKBAAR vir al die geërfde klere. Dra dit asof ek dit self uitgesoek het.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s