Die slangvanger

My kleinseun het regtig die grillerigste en grieselrigste belangstelling wat jy jou kan indink: Hy het ’n kursus voltooi om slange te vang.

Aangesien hulle in ’n wildpark bly, is daar gereeld slange in huise. Dan bel die vrouens benoud: “Stuur tog asseblief iemand om die slang uit my slaapkamer te kom verwyder!”

Allie, dis nou my kleinseun, haas hom dan soontoe, gewapen met sy slangvangstok en houer om die slang in aan te hou totdat hy dit iewers in die park kan loslaat.

In hulle omgewing is daar spoegkobras, boomslange, swart mambas, pofadders en rinkhalse om net die giftige slange te noem. Daar is selfs luislange.

Vir my bly dit ’n wonderwerk dat iemand sy tyd met so ’n “werk” kan verwyl. Al wat die werk vereis, is dat jy kennis van slange moet hê, kalm kan bly en vinnig moet reageer. Jy kry dan ’n sertifikaat wat van jou ’n professionele slangvanger maak.

Vir ’n leek soos ek bly ’n slang egter ’n slang. Ek bly maar skrikkerig vir die reptiel al sê Allie ook: “Toemaar, Ouma, dis nie ’n giftige slang nie. Dis net ’n nagadder.” Ek kan nie lank genoeg na die ding kyk om seker te maak dat hy nie my dood gaan veroorsaak nie. Selfs op ’n foto laat ’n slang my gril.

Allie vertel my nogal baie interessante feite oor slange, soos dat hulle sig nie baie goed is nie en dat hulle reuksintuig in hulle tonge geleë is. Ook weet ek nou dat die voëlslang baie giftig en gevaarlik is want daar is geen teengif vir sy byt nie.

Ons het self ’n paar maande gelede ’n stel afgetrap met ’n slang wat in een van die slaapkamers ontdek is. Allie was nie hier nie en ons moes ’n slangvanger uit die omgewing ontbied om die slang te kom vang. Met net ’n klomp vrouens in die huis wat gril vir al wat ’n reptiel is en veral bang is vir slange, was ons baie bly dat daar so iemand is wat ons kon skakel. Een van ons moes in die gang sit en seker maak dat die slang nie uit die kamer ontsnap en op ’n ander plek gaan wegkruip nie. Gelukkig het die slangvanger die slang gou opgespoor en hom tjoef-tjaf gevang (en seker net ’n entjie verder in die veld gaan vrylaat). Ons het hom egter met ’n glimlag betaal.

Daardie aand het ons almal voordat ons gaan slaap het, seker gemaak dat daar nie ’n verrassing vir ons onder die bed of onder die kopkussing wag nie!

This entry was posted in Kinders, Werk and tagged , . Bookmark the permalink.

5 Responses to Die slangvanger

  1. MaanKind sê:

    Gits vanaand droom ek weer van ‘n slang wat my jaag!

  2. Slakkelak sê:

    Ons kry baie spoegkobras by ons. Die mambas is eintlik maar sku, mens sien hulle selde. Ek het een dag een gekry wat 3m was, en hy het opgestaan vir my. Gelukkig was ek op die quad fiets en hy anderkant die draad. Monster. Vir hom was ek bang! Ons het al 2 luislange hier vrygelaat wat mense gebring het.
    My klein jackie hondjie het nou die dag ewe kordaat rondgehol met ‘n dooie baba boomslangetjie, hulle het die pragtigste grasgroen ogies.

  3. Dion sê:

    Ons kry heelwat pofadders, nagadders, boomslange, skaapstekers en “burrowing adders” hier in Oos London en het al heelwat in die huis gekry. Mense moet my maar kwalik neem, maar my enigste oplossing daarvoor was ‘n graaf! My kolliehonde maak ook vinnig kleingeld van enige slang – ek het lanklaas honde gesien wat so blitsvinnig kan induik, byt en wegkom wanneer die slang pik nie. Ja, na ‘n slang-episode is mens geneig om hulle orals te sien en trek mens eers die komberse weg om te sien voordat jy net jou voete instoot!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s