My ma

My gedagtes wil-wil vandag net weer op ver paaie terug indie verlede in. Ek dink aan my grootwordjare op die plot. Ma wat doenig is in die kombuis; ek kan nie otnhou dat sy iewers as in die huis en tuin  doenig was nie. ’n Voorskoot was een van haar noodsaaklikste kledingstukke, soort van ’n uniform. Ma was altyd  besig om iets te prakseer.

Daar was altyd ’n pot sop besig om te prut op die Doverstoof in die winter en somertye was daar ’n groot ketel water wat reg  was vir kuiermense se tee of koffie. Die Dovertjie was maar altyd aan die gang gehou. Brood en beskuit is geknie en daardie vertroostende reuk van brood wat bak bly my altyd by. Niks kan dit uitwis nie. Daar was altyd ook voorsiening gemaak vir roosterkoek wat ons op die warm stoofplate gebak en met botter so warm van die plaat af geëet het. Dit was nou koningskos. Mense braai dit nou as bykos saam met braaivleis. Vir my smaak dit nie meer dieselfde as toentertyd nie.

Middae se eiergereg het sy met meel gerek om soort van ’n hedendaagse frittata vir ons te maak. Onthou ons was in die depressiejare gebore. Ma kon iets uit niets vir ons optower. ’n Blikkie boeliebief moes gerek word om ses mense mee te voer. Groente wat sy self kon kweek was nie ’n probleem nie. Vleis was maar vark of hoender. Wanneer onverwagte gaste opgedaag het, is daar ’n hoender geslag. Varke was aangehou en as daar vark geslag is is daar kaiings uitgebraai en die vet was gebruik om op ons brood te smeer in plaas van botter. Die vet was gebruik soos ons nou enige smeer gebruik.

Bitter koffie was nie vir ons vreemd nie want geld was min en die winkel ver.  Pap sonder suiker was ook nie vir ons snaaks nie. Oupa se byekorwe het darem daarmee gehelp. Dit was altyd ’n verrassing wat Ma vir ete gaan optower. As daar suiker was het ma vir ons melkkos gemaak. Dit was vir ons soos poeding. Ons het daarna maar weer die koffie bitter gedrink maar dit was die moeite werd.

Ek kan nog lank aanhou om goed te beskryf wat julle as vanselfsprekend beskou maar vir ons as kinders ’n luukse was. Ons was natuurlik in die bevoorregte posisie om op die plot ons eie groente en vrugte kon kweek. Geld was nie volop nie maar aan kos en liefde het niks ontbreek nie. Miskien was daar nie botter in die groente nie ingeroer maar nogtans het alles vir ons spesiaal geproe.

Die groot geheim was kos voorberei met LIEFDE.

This entry was posted in Familie, Herinneringe and tagged , , . Bookmark the permalink.

2 Responses to My ma

  1. toortsie sê:

    Spierwit varkvet gesmeer op ‘n groot sny tuisgebakte brood. Njam!
    En kaiings!! Njam Njam!!
    Vetkoeke! Roosterkoeke!! Njam njam njam!!
    Daardie heel eerste korsie van die warm brood. mmmmm

  2. Slakkelak sê:

    Klink soos kos uit ons kombuis. Roosterkoeke op die koolstoof is die beste! Ek het nou die dag gou geknie vir ‘n roosterkoek saam met die braaivleis, lekker maar 2de beste. Varkvet met peper of met fyngestampte biltong op tuisgemaakte brood. Kaiings. Melkkos. Tuisgemaakte konfyt en ingelegde vrugte.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s