Dankbaar

Is of jy gelukkig in jouself? Staan jy op met die idee dat wat ookal vandag oor jou pad gaan kom, jy dit sal aanpak met blymoedigheid? Dat jy nie byvoorbeeld gaan kla en mor oor die weer wat so onvoorspelbaar is nie?

Nou die dag het ek beplan en klaargemaak vir ’n lekker kuier saam met vriendinne. Die tuin en grasperk is gelukkig alweer groen na die onverwagte reën. Die grasperk is mooi gesny, die kante gelykgemaak. Die blomme en struike is uitgedos in hulle nuwe lentedrag.

My kleindogter het uitgehang met muffins, en ’n heerlike tert. Alles was gereed vir ’n lekker kuier buite op die patio. Skaars was ons uit die bed of die wind het begin waai en die wolke begin saampak. Die uiteinde was dat ons die kuier maar binnenshuis moes hou. Ek sal nie kla nie, al was alles so mooi beplan.

Net voor die kuier het ek slegte nuus by die dokter gehoor maar ek het besluit om verby dit te kyk en die dag ten volle te geniet sonder om daaroor te praat. Ek sal maar wag voordat ek vir ander vertel. Daarom het ek gesels asof daar niks verkeerd is nie. Die spreekwoord sê mos, lag en almal lag saam met jou, huil en jy huil alleen.

Terwyl ons lekker gesels het het die boodskap gekom dat die ver kinders kom kuier. Vir ’n oumens is dit altyd goeie nuus. Nou kan ek weer hoor van die familie wat ek maar selde sien en ek is dankbaar dat die kinders nou weer almal onder een dak sal wees, al is dit net vir ’n naweek. Dan kan ek weer ’n lang tyd op herinneringe leef. Ons ou wêreldjie word so klein, daarom koester ons elke oomblik en geleentheid wat ons weer kan  herleef en beleef; die toeka en die nou.

Met my kinders se kuier het ek geluister na almal se planne en vooruitsigte vir die tyd wat voorlê. Ek het gehoor wat vir hulle belangrik is. Hulle beplan ’n lang vakansie al langs die kus op tot in Namibië. Ek kan nog onthou hoe ons in ons jonger jare so graag die ver paaie gepak het. Nou moet foto’s maar die plek van reis inneem.

Nogtans sê ek dankie dat ek dit kon beleef en ervaar. Van my kant af vertel ek maar oor my wedervarings en hoe ons dit destyds beleef het. Alles het intussen verander maar nou kan jy weer hulle weergawe  deur hulle oë gesien saam met hulle beleef.

Een ding waaroor ek spyt is is dat ons toe ek jonger was nooit daarby uitgekom het om die Namakwalandse blommeprag te gaan besigtig nie. Nou kan ek dit sien deur middel van pragtige foto’s op videoband. Soos alles is daar altyd iets om dankbaar voor te wees. Ek wens net dat die ou liggaam my nie altyd daaraan herinner dat ek dit nie meer self kan ervaar nie.

This entry was posted in Familie, Herinneringe, Oudword and tagged , . Bookmark the permalink.

3 Responses to Dankbaar

  1. MaanKind sê:

    Jammer oor jou slegte nuus, Klippie!
    XXX

  2. Slakkelak sê:

    ‘n Mens is geseend om herinneringe te kan he. Sommige mense word oud en weet dit nie eers nie. Daar is ALTYD iets om voor dankbaar te wees. ALTYD. Daai klein vlammetjie laat die donkerste donker wyk. Sterkte.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s