Generasiegaping

Ek hoor so baie van die generasiegaping dat ek so by myself wonder of ek ook een van die oues is wat so geredelik oordeel? Wil ek ook preek oor wat die jonges nou weer aanvang? Ek onthou  toe ek nog jonk was en my ouers vir my gesê het: Vroeg ryp, vroeg vrot. Nou is die jonges so wêreldwys en op hoogte van sake dat ek nie meer kan byhou nie. Hulle kan my nou baie dinge leer waarvan ek selfs in my gevorderde jare niks weet nie. Mens wil nie altyd preek nie maar dit bly maar ’n tameletjie veral as die kleinkinders saam met jou in een huis is.

Ek en die kleinkinders het nogal ’n lekker verhouding maar daar duik nog partykeer ’n situasie op waar ek praat voor ek dink. Ek weerhou myself daarvan om kommentaar te lewer oor haarstyle, kleredrag en iets wat nie vir my so lekker lyk nie. Keuses soos vriende is ook ’n taboe. My opinie hou ek maar vir myself.

Die kwessie van saambly bly maar ’n turksvy waaraan ek nie gewoond kan raak nie. Die kinders verseker my dat dit beter is om, voordat jy die knoop deurhaak, gewoond te raak aan jou maat se nukke en grille  as om na ’n jaar of twee ’n egskeiding te hê. Ek weet nie altyd wat om te antwoord nie. Vir my bly dit maar verkeerd, omdat ek op ’n jong ouderdom getrou  het. Ons het maar die oppe en affe gehanteer soos hulle opgeduik het. En daar is baie woorde geruil oor sake waar ons nie saamgestem het nie. Op die ou end het ons ooreengekom om mekaar se sienswyses te respekteer en mekaar halfpad tegemoet gekom en geluister; nie net altyd jou sin wou hê of die laaste woord wou spreek  nie.

Selfs kerkgang het verander. Sondagoggende sien jy net oues en egpare met jong kinders in die kerk. Saans is dit die jongmense se diens. Daar is nie meer ’n gesinsdiens nie.

Ook hou die verskillende geslagte nie meer saam partytj nie. Ouer mense hou nou makietie op hulle eie en die jonges gaan klub toe.

Toe my kinders jonk was, was daar juis ’n probleem oor musiek. Dit was in die hippie era en die kinders het graag na die musiek van die Doors, die Mamas en Papas, Bob Dylan, Crosby Stills Nash and Young geluister. Daar was soveel ander: Jimi Hendrix, Janis Joplin, en natuurlik die Beatles en die Beach Boys. Pa wou die stuipe kry as die kinders daarna luister. Daardie tyd het die studente van die blommekinders gepraat. En dis juis toe wat die generasiegaping sigbaar geword het. Pa was altyd dikbek oor die tipe musiek waarna sy kinders geluister het. Hy wou eerder net na klassieke musiek geluister het. Nog iets wat ’n doring in sy vlees, was die John Lennon brilletjie wat ons dogter gedra het. So was daar maar altyd iets waaroor die verskillende generasies gestry het.

Miskien moet ons oues terugdink aan ons eie jongmens lewens en onthou dat ons ook van ons ouers verskil het. Dan sal ons meer genaakbaar wees wanneer die jonges met hulle nuwe idees vorendag kom.

This entry was posted in Gewoontes, Kinders and tagged . Bookmark the permalink.

4 Responses to Generasiegaping

  1. MaanKind sê:

    Die dinge wat my van die kinders deesdae onderkry, is hulle baie goeters. Speelgoed en klere en skoene, als lyk vir my oordadig. Verder is hulle baie slim!

  2. Wheelbearing sê:

    Maar die musiek wat te erg is is te erg.
    N mens moet darem die woorde wat gebruik word kan verstaan as n taal nie net n klomp onsamehangende geluide nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s