Voëls in ons tuin

Voëls imponeer my altyd. Hier waar ek buite sit, is die hadedas besig om te wei op die grasperk naby die swembad. Ek hou hulle gefassineerd dop, die lang snawel wat so diep in die grond ingedruk word om die wurmpie of goggatjie raak te pik. Pik-pik oor die grasperk loop hy maar ek kan nie altyd sien wat hy raakgepik het nie. Ongestoord wei hulle en lyk dit of selfs jou teenwoordigheid hulle versteur nie. Die subtiele pienk kleur van hulle vere as die son daarop skyn laat my altyd dink aan die weerskyn tafsy wat ons vroeër gebruik het vir aanddrag.

Dan kom ons gereelde besoekers, die drie duiwe, ook nader gevlieg om saadjies te kom oppik. Ook hulle is besonders met hulle vaal blou kleur. Hulle wei maar so saam met die hadedas. Ek wonder of hulle ook vir hulle ’n vasgestelde plek afbaken om hulle kos te kom soek.

Die janfrederik loer maar half sku tussen die takke deur met sy blou rug en helder oranje bors en kop.  Hy koggel graag die gefluit van die ander voëls. Daar is die tiptolle met hulle kenmerkende maar eentonige geneh-neh-neh. Die suikerbekkie is gelukkig met al die bloeisels wat met die lente se aanbreek volop is. Hy is so pragtig, uitgedos in sy heldergeel pens en groen kraag. Sy krom smal snaweltjie flits in die son wanneer hy dit weer dieper in die blom se nek afdruk.

Intussen draai daar ’n valk hoog bo die bome op soek na iets om te eet. Mens ken hom uit aan sy hoë roep.

Aan die onderkant van die tuin is ’n hoephoep met sy oranje kuif en gestreeepte baadjie besig om te wei. Bokant hom in die boom sit ’n visvanger met sy blou vere en tuur oor die tuin uit op wag vir iets om te eet.

Iewers is ’n bloukuifloerie aan die roep: kok-kok-kok. As mens lank genoeg stilsit sal jy hom tussen die takke sien wip en as jy gelukkig is, sal hy van die een boom na die ander vlieg en sal jy sy helderrooi vlerke sien.

Ons spesiale toegif hierdie tyd van die jaar is die besoek van die kolgansfamilie. Met hulle kenmerkende geskreeu vroeg soggens en laat middae laat weet hulle ons net dat hulle hier ie. Deur die dag is hulle maar stil maar middae marsjeer hulle na die swembad en laat weet hulle ons dat hulle terug is.

Moenie die mossies vergeet nie. Hulle moet spesiaal wees want hulle word in die Bybel genoem. En wanneer die piet-my-vrou na sy wederhelfte roep, weet ons sommer daar is reën in die lug. Hier by ons is dit nie snaaks om middernag wakker gemaak te word en die piet-my-vrou te hoor roep nie. Gelukkig is ek nie bygelowig nie want soms hoor ek die uil ook in die nag roep.

Wanneer ek terug is in die eetkamer kan ek in die hoë boom buite die eetkamer net-net die rooikophoutkapper uitmaak. Ek weet dis hy want hy sing sy pragtige toepoedie-toepoedie-liedjie.

This entry was posted in Natuur and tagged , . Bookmark the permalink.

One Response to Voëls in ons tuin

  1. Annalouise sê:

    Ek het jou geselsie oor die voels in jou tuin baie geniet en dit het my nou angespoor om om te gaan kyk watter voels daar in ons tuin is en dit ook neergepen deur wat ek ervaar het toe ek hulle dopgehou het. Ek identifiseer die meeste van hulle ook by ons hier in Nelspruit. Ek is `n onderwyseres en is besig met `n tema oor voels en jou geselstrant is lekker om aan kinders oor te vertel baie dankie dat jy dit met ons gedeel het.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s