Om mooi te lyk

Ek kyk so deur die vrouetydskrifte en verstom my aan al die rome en smeergoed vir velle, hare en naels. En die goed het pryse wat ’n hele maand se kruideniersware kan koop! Ek wonder nou hoe ons klaargekom het sonder al daardie doepa. Ons het maar ons eie roompies geprakseer met gliserien en babapoeier. Ongelukkig kan ek nie  nou meer watter ander bestanddele ons gebruik het nie. Ek weet net dit het wondere verrig. Ons het dit as gesigroom en handeroom gebruik en mens het altyd so ’n babapoeiergeur rondom jou gehad.

Eierwit is styf geklop en as gesigmasker gebruik. Ek kon nooit die reuk van rou eier verdra nie, so het ek maar daardie ritueel vermy. Instede daarvan het ek hawermout en melk gemeng en dit aangesmeer, dit vir ’n ruk aangehou en dan afgespoel. Jou gesig het so lekker gevoel daarna. Terwyl die hawermout droog geword het, het jy sommer komkommerskywe op jou oë gesit. Dit was maar soos wat ons reggemaak het vir ’n spesiale aandjie uit. Vaseline is ook gebruik maar dit was net vir ekstra droë velle en ook as daar regtig niks anders was nie.

Vir skurwe hande en veral gebarste hakskene was melksalf die wondermiddel. Vir die seuns met hulle skurwe voete en hande is ’n salf gemaak van gesmelte kerswas en paraffien. Dit was spesifiek vir die seuns gebruik omdat hulle kaalvoet oor die wit gerypte gras geloop het. Nou wonder ek hoe die arme kinders dit gehou het. Daardie tyd het ons nie gedink aan hoe hulle voete gevoel het of die welsyn van hulle  voete nie; hulle moes net doen wat daar aan hulle gesê was. Nou loop niemand meer kaalvoet nie en het die kinders skoene te kus en te keur in hulle kaste.

Vroue bly maar ydel en wie wil nie ’n vleklose en gladde vel hê nie? Ek stem net nie saam met Botox  behandeling nie. Die vroue wat so kort-kort gaan vir ’n paar inspuitings lyk vir my al te veel asof hulle mombakkies dra.

Haarkleur was maar selde gebruik, behalwe natuurlik die peroxide blonds en so af en toe het mens gehoor van henna wat gebruik is om jou hare so ’n rooibruin skynsel te gee. Asyn en suurlemoenwater is gebruik vir afspoelmiddel want ons sjampoe was Sunlightseep. Elke aand is jou lang haredos geborsel, ten minste ’n honderd keer. Nou se dae lyk dit of sommige jong mense nie weet hoekom ’n mens ’n kam gebruik nie. Deesdae is daar ook allerhande elektriese toebehore soos haardroërs en tange om die hare reguit te maak. Ons droër was maar net die son.

So het elke generasie maar sy gebruike, rituele en modes. Ek wonder net hoe die haarmodes van die toekoms gaan lyk.

This entry was posted in Gewoontes, Herinneringe and tagged , , . Bookmark the permalink.

One Response to Om mooi te lyk

  1. MaanKind sê:

    Ek kan aansmeer wat ek wil, my vel bly my vel.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s