Die voortuin

Rose en jasmyn, stokrose, geel Afrikaners, jakobregoppe, malvas, gousblomme. Lui dit ’n klokkie? Vir ons was dit hoe ’n voortuin gelyk het. Stokrose aan die agterkant om ’n rand te vorm en ’n deurmekaar verskeidenheid voor.  Dit was nie vir ons ongewoon nie want al die bure se tuine het so gelyk. ’n Bonte mengelmoes van kleur en geur.

Jasmyn en rankrose wat welig oor die heining rank. Die jasmyngeur byna bedwelmend in die aandlug. En in die lente was die verbleikblom in alle tuine aan die blom.

Grasperke was toe nog nie die in ding nie. Dit het eers later gekom. Toe die gier van grasperke posgevat het, was dit seker tot ergenis van baie seuns, want nou moes die grasperk gereeld gesny word. Die oë altyd op hoe kort en simmetries jou grasperk was. Koebaai speel, as pa van die werk afkom moet dit lyk asof hy van die grasperk af kon eet, anders was daar moeilikheid.

Verskeie van die blomsoorte sien mens nou byna nooit meer nie. Nou word ’n landskapsargitek aangestel wat die tuin moet aanlê. Grasperke moet so netjies soos golfbaan setperke lyk. Grasgroen grasperke met die minimum van blombeddings. Baie netjies. Ek stry nie, so ’n grasperk lyk nogal pragtig. Potplante word op strategiese plekke staan gemaak. Maar alles geskied volgens ’n plan.

Inheemse bome en plante word nou aangeplant in plaas van eksotiese bome want dit bevorder die voëllewe, en boonop gebruik dit nie soveel water nie. Daarmee kan ek nog saamstem.

Volgens omgewingsregulasies moes ons van ons kamferbome ontslae raak. Die bome was massief en ek mis eintlik die groen blaredos. Ek het toe gehoop dat die voëls nou meer vrymoedigheid sou hê om ons te besoek. Daar is nou meer voëls of miskien is hulle net meer sigbaar omdat hulle nie nou so hoog in die groen takke kan skuil nie.

In die plek van die 24 kamferbome is daar nou geelhoutbome, ’n rooi-essehout, koraalbome, ’n platkroon en kleiner bome soos die boom fuchsia en witolienhout, selfs ’n drolpeer of twee. Wildedagga, bloureën, bosviooltjies, wilde irisse en madeliefies groei nou langs mekaar. Daar is ook boslelies (clivias), agapanthus, vuurpyle, aronskelke en aalwyne.

Maar soms, net soms, verlang ek na die groot kamferbome wat as die wind gewaai het geklink het of hulle handeklap.

This entry was posted in Gewoontes, Herinneringe and tagged , . Bookmark the permalink.

3 Responses to Die voortuin

  1. MaanKind sê:

    Ek sien niks bome nie, ek sien net jou oranje muur…
    Ja, ek onthou die tyd van ‘n paar polle kweekgras waarop ons gelê en kyk het na die wolke.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s