Makietie vir die oujaar

Vanmôre gaan my gedagtes baie jare terug, daar na waar ons reggemaak het vir die oujaarsmakietie.

Dit is ’n geskarrel en gewerfskaf van ’n ander aard, want dit is ons beurt om dit aan te bied. Die garage moet skoongemaak word en darem so ’n bietjie opgedollie word met groen en rooi kreukelpapier om die strakheid so ’n bietjie te verlig. Ons drapeer rooi en groen papier oor die balke. Die vloer moet glad gemaak word sodat iemand se voete nie vashaak en hy of sy neerslaan nie.

Ons meisiekinders is min gepla oor reëlings. Ons is net gepla oor ons voorkoms. Ons beplan nou al die hele week wat ons gaan aantrek. Hare word gewas en ingedraai. Onthou toe was pincurls nog in die mode. Ure word gespandeer aan rok, skoene en makeup. Jou oogmerk was om nie een dans uit te sit nie. Ma skreeu net kort-kort, maak klaar sodat julle kan kom help. In daardie dae het ons nie iets soos ’n bring en braai geken nie. Die eet- en drinkgoed is deur die gasheer verskaf. Gelukkig was daar mense wat uit die goedheid van hulle hart wel eetgoed saamgebring het want met so ’n deurnagjol word mense maar honger.

Aantrektyd het aangebreek, want die gaste het al vroegmiddag begin aankom. Ons meisiekinders kloek saam en paradeer daar rond met ons dansrokke wat lekker wyd uitswaai. Jy weet sommer jy lyk mooi, voel ook so. Die musikante kom so teen sesuur aan en val sommer weg met ’n lekker dansdeuntjie. Wals, vastrap, polka, settees. Dit gaan sommer gou baie jolig. Jy is uitasem gedans maar wil hê dit moet sommer vir ewig aanhou. Gun jouself nie die tyd om iets te eet of te drink nie; jou voete wil nie stilstaan nie.

Twaalfuur slaan en, met ’n handdruk of ’n klapsoen, wens almal mekaar ’n goeie nuwejaar toe. Na ’n kort verposing gaan die dans weer aan. So breek nog ’n nuwejaar met groot verwagting aan. Gaan dit ’n beter jaar wees as die een wat so pas verby is? Vir ons jonges bestaan net die nou en word daar nie bekommer oor die toekoms nie. Dit los ons maar vir die oueres.

So een na die ander gooi nou handdoek in. Net ons bittereinders hou nog aan. Die musikante raak ook moeg en begin beurte maak om te speel. Ons dans totdat die son opkom. Gelukkig is daar baie hande wat help met ontbyt en sommer gou-gou word daar ’n heerlike ontbyt saam geflans.

Nou is ons pootuit en pê. Maar ons weet die oujaarsdans was ’n reuse sukses. Volgende jaar maak ons maar weer so. Transvalers bly maar plesierig, kan jy my glo; so dans-dans die nuwejaar in.

This entry was posted in Herinneringe and tagged . Bookmark the permalink.

2 Responses to Makietie vir die oujaar

  1. MaanKind sê:

    Ons was Doppers, en ons het nie gedans nie…. Ons het een jaar skelm na die Oujaarsdans gegaan toe ons op vakansie was, met ouma se toestemming, maar ouma was saam om ons op te pas…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s