Tattoeërmerke

Tattoeërmerke laat my so gril, veral die ouens wat elke oop plekkie aan hulle lyf vol ongediertes en goggas beskilder: die nek, keel en agterkop; nêrens ’n plek waar daar nie ’n prent is nie. Die nuwe neiging om al die hare op die kop af te skeer, laat die tattoeërmerke nog meer prominent lyk.

Ek vra myself dan af hoekom mense dit doen. Vir my lyk dit asof dit ’n mens is wat uit ’n gruwelfliek ontsnap het. Dink mense dalk dit lyk sexy? My verbeelding gaan op loop en ek dink aan die rampokkers van lank gelede, altyd besig om een of ander onheil te beplan. Sigaret in die hoek van die mond, wit frokkie en getattoeërde arms. Wonder wat se skelmstreek broei daar nou in sy kop. Ek sou sulke merke wou gebruik as ’n afskrikmiddel, iets soos Antjie Somers.

Smaak verskil gelukkig, maar ek sou nie graag my kleinseuns so betakeld wou sien nie. Ek glo nog jy moet nie jou liggaam so skend nie. Ek weet my kleindogters het elkeen ’n klein tattoeërmerk, agter op hulle rûe, maar gelukkig sien ek dit nie want dit is bedek deur hulle klere.

In my jong dae het ek mans gesien wat tattoeërmerke op hulle arms gehad het, maar gewoonlik net een, ’n anker, hart of kruis. Kopbene was ook nogal gewild en dit was die somtotaal van tattoeërmerke. Dink nou so in my enigheid as ek ook die malperd opgeklim het en my laat tattoeër het, hoe dit nou sou gelyk het met al die plooie en rimpels?

Ek lees juis vandag hoeveel geld gespandeer word om al die tattoeërmerke te laat verwyder. Dus eintlik was die tattoeëring ’n regte vermorsing van geld en energie. Ek sou eerder al daardie geld aan ’n reis of so iets wou spandeer.

Nou kom die ander onding wat my dwars in die krop steek. Al die ringe wat mense nou op elke denkbare plek laat inskiet. Ore, waar een stel oorringe nie meer genoeg is nie. Dit lyk soms of hulle kyk hoeveel oorringe in een oor kan kom. Dan is daar ringe aan lippe, wimpers, tonge, naeltjies en ander onnoembare plekke ook. Dit lyk vir my asof dit baie seer kan wees. Maar ek onthou die spreekwoord wat sê, “Al dra ’n aap ’n goue ring, hy bly maar net ’n lelike ding.”

This entry was posted in Gewoontes and tagged , . Bookmark the permalink.

3 Responses to Tattoeërmerke

  1. MaanKind sê:

    My dogter is verbitterlik spyt, 20 jaar nadat sy die tatoeërmerke laat doen het.

  2. Ek hou self nie van ‘n tatoeëermerk nie, gril daarvoor. Een of twee kan wel nog gaan, maar ek sal beslis nie self een kry nie.

    Piercings – in matigheid (dalk eerder minimalisties) – is vir my meer aanvaarbaar. Ek sien byvoorbeeld niks fout met ‘n naeltjie ring nie, mits die maag nou iets is om mee te spog. ‘n Stud of ring deur die wenkbrou of selfs ‘n tongring is ook gangbaar – maar dit moet nou nie meer ring as mens wees nie.

    Persoonlik het ek meer as een stel oorringe. Ek sou die naeltjie ring ernstig oorweeg het as ek gemaklik was om my maag ten toon te stel. Ek oorweeg ‘n stud aan daardie stukkie vel voor my oorgat of bo op my oorskulp.

    • EK stem, ringe op sekere plekke (as die plekke iets is om na te kyk) lyk heel nice. Naeltjie ring is baie sexy, so ook ‘n tongring. Daai deur die wenkbrou of onder die lip, dis maar effe af. En daai wat jy wil inskiet ? Hoekom daar ? Dit lyk vir my ook af. ‘n Paar ringe so teen die oor op is nice, maar daai ene in die middel ? Jig.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s