Slaapstories

My kleinseun is so om en by dertig en van al die kleinkinders is hy en ek nogal groot maats. Hy kom nog altyd vir ouma al sy probleme vertel en dan kan ons al die pros en cons uitsorteer na die beredenering van elke probleem. Ons kan regtig ’n hond uit die bos gaan haal en bespreek.

As ek nou vir hom kyk kan ek nie glo dat hy die outjie was wat aan die slaap gesing moes word nie. Hy was een van die kinders wat nooit ’n nag deurgeslaap het nie. Wat altyd een of ander skeet gehad het. Sy pa het altyd gesê hy was die beste voorbehoedmiddel wat daar was. Glad nie kans gesien vir nog so ’n baba nie. ’n Nag se slaap is al wat hulle tog net wou geniet sonder opstaan om eers te gaan paai en troetel totdat meneertjie slaap.

As ek daar gaan kuier het, want op daardie stadium was ek ver ouma, was dit my taak om te kyk of ek darem meer sukses sou hê. Ek het hom so besig gehou in die dag sodat ek gedink het hy sal sommer net omval en slaap van moegheid. Vir die geringste het hy ’n loopmaag  of een of ander probleem gehad, so moes jy ook versigtig wees wat jy hom gee om te eet. Die gevolg: Koebaai slaap.

Toe besluit ek dat solank as wat ek daar kuier, ek hom so rustig as moontlik gaan hou. Net mooi stories vertel sonder enige skrikmaak figure. Vroegaand lekker gebad, saam met hom op sy bedjie gaan lê en dan sy storietjie gelees. Hy kon self kies wat hy graag wou hoor. Ek het die lig dowwer gestel en ewe rustig vir hom begin lees. Na ’n ruk lyk hy nog net so wakker as toe ons kom lê het. Begin vir hom sing: Slaap my kindjie, slaap sag. Sodra die liedjie klaar gesing is sê hy: “Nog, Ouma.” Na vele kere se herhaal slaap hy uiteindelik.

Dan wriemel ek stadig uit sy bed sodat hy asseblief tog net nie wakker moet word nie. Gaan na my kamer, maak my reg om nou my eie storieboek te lees. Skaars klaar met badkamer toe gaan en nagklereaantrek, net reg om te begin lees, hoor ek voetstappies nader kom. Hier staan kleinseun langs my bed. Laat hom maar by my inkruip. Hoop as ek nou weer vir hom begin sing, sal hy sommer gou-gou slaap. Sing nou elke slaapdeuntjie wat ek ken. Niks gebeur nie behalwe dat jy nou aan die slaap raak. Later word ek wakker en sien kleinseun slaap nou vas. Ek is te bang om te roer vir in geval hy  sal wakker word. Ek is bra ongemaklik maar ten minste is meneertjie weg vir die  wêreld. Nou vertel hy vir my dit is my gesnork wat hom so lekker laat slaap het.

Hy het nog nie trouplanne nie maar ek hoop net sy kleintjies slaap beter as wat hy geslaap het.

This entry was posted in Herinneringe, Kinders and tagged . Bookmark the permalink.

2 Responses to Slaapstories

  1. MaanKind sê:

    My kleinkind is nou net so! NIKS werk nie. Party aande sit haar ouers later bloot die lig af, dan lê sy nog lank wakker in die donker

  2. toortsie sê:

    Die tweeling het my op ‘n stadium snags so besig gehou. Lê ek by die een, roep die ander een. Ek het toe later vir hulle op ‘n driekwartbed gesit en verduidelik dat mamma en pappa bymekaar slaap op een bed en hulle tweetjies slaap op hierdie bed. Ek het dan saans tussen hulle gelê (nadat ons ‘n uur lank gelees en gesing het) tot ons al drie slaap..

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s