Lekka, lekka ywe

In my huisvroujare het mens alles wat in jou spens was vir etes geprakseer. Ons het geglo as daar aartappels, uie en tamaties was, was daar niks om oor te kla nie. Geen bekommernis oor wat vanaand geëet gaan word nie. Aartappels kan mens mos in verskeie vorms voorsit: aartappels in die skil, kapokaartappels, slaptjips, aartappelkoekies en die allerheerlikste aartappels gebraai in die oond, saam met stowe pampoen en ’n bruingebraaide hoender. O, en moenie vergeet van die aartappelslaai nie; dis ’n moet saam met die braaivleis.

Tamatieslaai, tamatiebredie, gebraaide tamatiebroodjie met uie onder die braairooster. As die kar gepak is vir ’n kuier by die ver kinders is ’n sakkie aartappels en ’n kassie tamaties eerste in die kar gelaai. Tamaties verkieslik uit my man se eie tuin. So halfryp en ferm. Hy kon nooit verdra dat die tamaties rooiryp gebruik word in die slaai nie.

Die kleinseuns, veral, het oupa se kuiers baie geniet, want waar oupa was, was daar ’n goeie kans om getrakteer te word op ’n groot bord slaptjips met worcestersous. Oupa het geglo om sy kleinseuns te bederf is daar net een ding wat hom nommer een in hulle boekies sal laat wees is en dit was iets om te eet. Die ma’s was maar ook te bly want oupa het hulle ook bederf en die kooksessies oorgeneem. Die oondgebraaide hoender met die goudbruin aartappels sien ek nou so duidelik in my verbeelding dat my mond sommer water.

Gisteraand sê ek vir my dogter, ek is lus vir wortels saam met aartappels gekook soos in mash. Sy kook dit toe vir my met regte botter ingeroer en baie peper. Toe verlang ek sommer baie erg na  my ou man. Waar is sy groenboontjies gekook met aartappels en uie. Hy het dit gehaat as die boontjies nie dungekerf was nie en dit gelyk het soos, wat hy genoem het, kalkoenkos. Hy het verseg om dit te eet. Groen boontjies op ’n vars gebakte sny brood was ook baie lekker. Selfs in my skoolkosblik was ’n groenboontjietoebroodjie baie welkom. My kleinkinders dink dit is gross. Waar het jy ooit gehoor van koue groenboontjies op jou brood? En dan wil jy dit nog lekker noem?

Ek sing graag saam met die “Kaalvoet-klonkie” van ID du Plessis:

“Lekka, lekka ywe,
laat die ghantang naderskywe!
Tamaties en ywe vars van die strand
En baie kiri slam by die hys se kant!”

This entry was posted in Kos and tagged , , . Bookmark the permalink.

3 Responses to Lekka, lekka ywe

  1. MaanKind sê:

    Maak jy my nou lekker lus!
    Moenie dat iemand hoor nie, ek kook altyd bietjie ekstra boontjies, vir die volgende dag se toast… Kool met witsous ook.

  2. Ander iets sê:

    nee net nie wARM TAMATIES NIE ASB TOG NIE

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s