Blou Maandag

Hierdie Maandag het begin met ’n baie donkerblou tint. Angel het al vroegoggend kom rapporteer dat die wasmasjien nie wil spin nie. Vir Angel is haar wasgoed ’n prioriteit; sy soek altyd iets om te was, so is sy nogal baie ontsteld. Die bondel wasgoed is in die masjien, maar spin wil hy nie spin nie.

Maak tog asseblief net ’n plan sodat die wasgoed net op die draad kan kom. Die plaaslike koerantjie lewer toe darem iemand op wat dadelik kan kom. Hy krap hier, skroef los en draai vas en kondig aan dat dit net ’n kopspeld was wat iewers in die meganisme vasgesteek het. ’n Hele R350 later. Vra jou nou net hoe kan ’n dag goed begin as dit soveel kos om die ou speldjie te verwyder. Angel is min gepla want nou kan sy aangaan met die wassery.

Volgende slegte nuus: kleindogter kom aanmeld dat die stort se water nie warm word nie. Die koerantjie word weer geraadpleeg op soek na ’n loodgieter. Loodgieter is ook gou-gou hier maar hierdie keer is dit nie sommer net so ’n probleem nie. Daar is groot fout by die warmwaterpype. ’n Groot en duur probleem want van die vloerteëls moet verwyder word. Sien in my gedagtes net dollars, gelukkig kon hy ’n plan bedink wat darem tydelik sal uithelp, maar doen sal dit gedoen moet word. Hoekom moet daar iets wees soos Murphys Law?

Nou wag ons vir die derde ding wat moet gebeur. Ek sal maar nie die tyd vooruit loop nie; miskien spring ons dit hierdie keer vry. Loodgieter weet dat dit nie meer lank gaan wees voordat hy die onvermydelike moet doen nie. Net jammer dat dit nou moes gebeur, maar eindelik is dit dalk beter want my dogter gaan binnekort help met die nuwe baba wat gebore gaan word.

Ons oues is nie goed met al die nuwerwetse tegnologie nie, sy is darem nou nog hier want ek onthou nog toe sy verlede jaar nie hier was nie. Ek het my toilet aan die brand laat raak. Kleinklippie was nie links nie en het so tussen die laggery deur ’n foto van die gedoente geneem en die hele petalje die wêreld in getwiet. Nou wil mense van heinde en verre weet waarom ek op my ouderdom skelm rook. In werklikheid het die lekkerruik kers omgeval en die probleem veroorsaak. Die ou spulletjie het my nogal ’n aardige bedraggie uit die sak gejaag en ek het selfs die loodgieter wat die toilet kom vervang het, se dag gemaak. Ek was maar net dankbaar dat daar nie groter skade was nie.

So is dit maar beter dat die stort reggemaak word want dalk breek die pype finaal sodra sy op die vliegtuig is. Want vir ’n koue stort sien ek nie kans nie, al is dit amper somer.

This entry was posted in Uncategorized and tagged , . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s