Erfeniskos

Ek het geluister na ’n program waarin mense vertel van die kos wat ons kan voorberei vir erfenisdag. Sodat ons klein- en agterkleinkinders kan proe wat vir ons ouer garde so lekker was.

Elke Sondag moes daar uitgehang word want deur die week kon ons maar min eet. Nou praat hulle van Erfenisdag as braaidag. Dis nou goed en wel maar daar is ’n paar spesiale disse wat ek op Erfenisdag sal wil proe.

Gebraaide skaapboud, hoenderpastei, gebraaide aartappels so bros gebraai in die oond is boaan my lys. Pampoenkoekies met ’n kaneelstropie. Stampmielies lekker sag gekook met ’n lekker dik vleissousie. Groenbone is ook ’n moet, maar gekook op die outydse manier, met aartappels en uie, botter en peper.

Maar laat ek begin by die begin. Ontbyt is eers bedien: stywepap , tamatiesmoor, wors en ’n tjoppie. Dan volg tuisgebakte brood met tuisgemaakte konfyt. Uitgebraaide varkkaiings en gestampte biltong. Elfuur koffie is bedien met gemmerkoekies en soetkoekies. Die  kinders moet nou nie te veel eet nie want middagete is om die draai. Na ’n heerlike kuier om die koffietafel is dit tyd om tafel te dek vir middagete. Tamatie-, beet- en komkommerslaai word gemaak. Die vrouens het almal hand bygesit en die huisvrou het nie alleen in die kombuis geswoeg nie. Onthou nou daar was nie iets soos potjiekos om  die gaste mee te voer nie. Dit was regtig vir ons ’n groot plesier om almal saam om die tafel te hê. Vir die kleiner kinders was ’n spesiale tafel gedek sodat die grootmense in vrede kon eet. Vir nagereg bedien ons asyn- of gemmerpoeding met ’n dik vlasous.

Na ete het die ouer mense gewoonlik ’n bietjie gaan skuins lê. Die kinders het maar hulle eie koers gekies. Rondgedwaal tussen die perske- of lemoenbome. Van die seuns het gou-gou ’n skelm dampie gaan slaan.

Vieruur was daar weer koffie bedien. Hierdie keer met melktert, koesisters en slapkoek. Dan is daar lekker rondgesit en gesels en diep dinge oor die politiek gepraat. Vir aandete is daar nie spesiaal gekook nie. Die oorskietkos van middagete is op die eetkamertafel gesit en die wat honger was kon hulleself help.

Die kuier is afgesluit met pa wat ’n gebed opgedra het aan die Een wat dit vir ons moontlik gemaak het om so ’n heerlike dag saam deur te bring en dat ons almal gespaar was om dit te kon geniet. Die verskillende huisgesinne is terug na hulle eie huise want daar moes reggemaak word vir môre se werk. Nadat die kinders heerlik gebad het, het hulle so een na die ander bed toe gegaan. More moet almal betyds wees vir skool en werk.

Met nabetragting en herinneringe wens ek daar kon nou meer sulke dae gewees het. Tradisies het heeltemaal verander. Nou kuier die kinders om die TV en luister rugby. ’n Vleisie word gebraai met een oog op die TV want jy kan nie ’n beweging wat uitgevoer word mis nie. Die jongeres het ander afsprake met hulle vriende wat nie uitgestel kan word nie. Potjiekos is ook makliker en vinniger. Jou aandag is nie konstant nodig nie. Maar ek mis my etes aan tafel. Daar is al baie probleme opgelos en sake uitgepluis wat andersins onoorkomelik gelyk het.

Nou sug ek maar soos Genis: “Waar is die dae tog?”

This entry was posted in Gewoontes, Kos and tagged , . Bookmark the permalink.

11 Responses to Erfeniskos

  1. MaanKind sê:

    Ag hoe lus is ek nou vir slapkoek!
    En braai was nog nooi My Erfenis nie. Ek vies my sommer, ek gaan nou iets sê daaroor.

  2. Pingback: Braai is Nié My Erfenis Nié! « MaanKind

  3. Ek vir een sal nou wragtig nie my siel verkoop vir skaapboud nie.

    Klippie,

    Jy het nie dalk iewers ‘n asynpoeding resep wat jy wil deel nie? Ek het dit al geproe, maar nog nooit ‘n resep iewers raak geloop nie.

    • klippie sê:

      Ek kook nou al vir jare nie meer nie en het my resepteboeke weggegee. Ek het vanoggend ‘n paar vriendinne gebel en hopelik kan een van hulle ‘n resep opspoor. Nie te lank terug nie het ons ‘n kuiergas gehad wat die hele naweek gevra het dat ons asb ‘n asynpoeding moet maak, hy het dit laas as kind geëet.

  4. Die dag as jy SO dag beplan met al daai eetgoete: NOOI MY !!!🙂

  5. Son sê:

    Ek lus al vir dae lank lekker waterblommetjie bredie, met varkspek stukkies in, soos my Oupa dit gemaak het!

    • klippie sê:

      Ons ou Transvalers het altyd net gehoor van die waterblommetjiebredie maar self het ek dit nog nooit geproe nie. Snaaks hoe mens sekere kossoorte met bepaalde mense assosieer. My kleinseun het nou die dag gevra vir bubble ‘n squeak soos Oupa dit gemaak het. Maar ek weet nie wat hy daar ingesit het om dit spesiaal te maak nie, so ek kan nie eers vir my dogter of my kleinseun die resep gee nie.

  6. Ander iets sê:

    Oupa se deeg gerolde sampioene an sy pannekoeke

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s