Rugby kyk

Ek wens so om weer al my kinders en hulle aanhangsels, dit is nou die kleinkinders, kon weer saam onder een dak wees. Om te gesels en ou herinneringe van hulle kleinweesdae te herroep. Vir ons wat nou in die aand van ons  lewens is, is dit soos ’n lewensdraad waarvan jy maar teësinnig ontslae raak.  Jy weet voor jou siel dat wat verby is nooit weer kan wees nie. Maar ten spyte van die tyd wat voortsnel, is dit steeds lekker om op ou spore terug te loop.

Mens weet dat die aangetroudes nie altyd dieselfde dink oor die stories as jy nie en al wil jy graag hê dat hulle die stories net soveel moet geniet soos jy. Dan hoop mens maar dat die kuier vir hulle net so lekker sal wees as vir  jou. Maar soos in alle groepe is daar altyd iets wat haper.

Sannie hou nie van Piet se luidrugtigheid nie, sy glo hy wil net sy mening op almal afdwing. Lettie hou nie van skoonsus nie want sy glo haar kinders en kleinkinders is hopeloos te veel bederf. Gelukkig aanvaar die jongmense mekaar en gesels hulle al te lekker oor hulle werke en sport. So is hulle darem uitgesorteer.

Jy sit maar daar eenkant en luister oopmond na almal se menings oor die ekonomie, Julius Malema en sommer alles in die algemeen. Elkeen glo sy siening is die enigste wat reg is en kort voor lank is een van die groep sommer baie opgewonde. Nou wens jy dat die
rugbywedstryd moet begin sodat hulle belangstelling kan verskuif. Dan kan hulle maar die spelers en die afrigter en skeidsregter hulle nuwe teiken maak.

Die braaivleisvuur word aangepak, biere word geknak en kort voor lank is daar ’n gemoedelike gees. Die springbokke word aangemoedig of afgekraak, hang net af van die bewegings wat gemaak word. Die toeskouers, al is hulle net langs die braaivleisvuur, se senuwees hang aan ’n draadjie. Die telling lyk beroerd, maar dan wen die Springbokke. Nou is almal bly: ’n wen is ’n wen, maak nie saak of ons span gesukkel het nie. Daar word lykskouing gehou, maar almal is dit eens: volgende keer gaan dit definitief beter; net jammer van al die beserings. Soos gewoonlik het al die vernaamste spelers ’n besering van een of ander aard. Almal hoop daardie probleem kan opgelos word.

Gelukkig is die vleis ook nou gaar en al die bykos gereed. Daar is net tyd om gou ’n stukkie te eet voordat almal weer in die pad val, elkeen terug na eie huis en haard. Verby is die kortstondige saamwees en nog ’n blaadjie in jou dagboek van herinnering is vol geskryf. Totsiens tot ’n volgende keer. Ek is net dankbaar dat daar nog ’n geleentheid was waar ons almal weer kon saam verkeer.

This entry was posted in Familie and tagged , , . Bookmark the permalink.

4 Responses to Rugby kyk

  1. MaanKind sê:

    Ai man Klippie, my hart gaan so uit na jou!
    XXX

  2. Slakkelak sê:

    In ons familie hou ons ook van kuier, en ek dink ons hou ons bande met Facebook en e-pos, ons leer mekaar beter ken deur die elektroniese media.

    Maar wat jy se is baie waar, en elkeen lewe maar op sy eie manier en loop sy eie pad, en die pad is nie altyd na dieselfde plek toe nie, al loop die paaie langs mekaar.

  3. seegogga sê:

    Soms is herinneringe beter as die werklikheid? Gelukkig het ons dit. Maar die heerlik om mekaar weer te sien, al ontbreek die ware gesprekke dikwels

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s