Lente

Dit is nogal warm vanoggend. Die clivias is in volle blom: oranje, geel en appelkooskleur. In die ou dae was dit boslelies genoem en was dit ’n skaars en gesogte blom. Nou is daar mense wat probeer om al wat ’n seldsame kleur is te teel. Ek hoor glad dat ’n groen skakering clivia so om en by R30,000 kos.

Die warm sonskynkleure van ons boslelies laat mens sommer lus voel om ’n groot bos te gaan pluk vir daardie donker hoekie in die sitkamer. Ek glo dit sal sommer ’n ligter tred in ’n mens se stappie sit en jou liries laat raak oor die skoonheid van die blomme. Met die welige groen agtergrond van die Natalse plantegroei is die blomme ekstra mooi.

Maar die ander blomstruike en plante lyk asof hulle wedywer om die een mooier te lyk as die ander. Selfs die bottelborsel het ’n oorvloedige drag bloedrooi stringe. Die koraalboom naby die hek is oortrek met blomme. As die lug wolkeloos is kan ek jou verseker is dit ’n prentjie wat jy nie maklik kan vergeet nie. Ons kan nie ontken dat lente darem die mooiste seisoen is nie.

In die malls wil die meisies ook meeding met die natuur. Hulle fleurige rokkies en sandale laat hulle lyk asof hulle die lewe tegemoet wil dans. Waar is my dae tog?

Die lekkerste tyd is natuurlik die vroeë skemeraand. Dit asof die laste van jou afval, die geure van die bloeisels is amper bedwelmend. Jy wens amper die donker wil nie so gou aanbreek nie. Dan kan jy droom oor alles wat so onbereikbaar lyk en wil jy sommer alles laat waar word met net  die klap van ’n vinger. Sou dit nie wonderlik wees nie as die ou beenpyne sommer dadelik weg sal wees en jy tussen die plante kan rondbeweeg en hulle skoonheid kan indrink.

Ek wens elke dag dat die kinders almal hier was sodat hulle ook kan sien wat ek sien. Omdat ons nie kleuters en peuters het wat aandag nodig het nie, sou ons ons kon oorgee aan die genot van die oomblik. Ons sou lekker saam kuier op die patio totdat dit tyd word om in te beweeg.

Al is dit nog bietjie vroeg sing ek graag saam met die digter: Dit is die maand Oktober, die mooiste, mooiste maand.

This entry was posted in Natuur and tagged , , . Bookmark the permalink.

One Response to Lente

  1. MaanKind sê:

    Dis heerlike lente, die winter is verby…
    Die woorde vat my direk terug laerskool toe!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s