Die Bybel

Ek moet tot my skande erken dat ek nooit die name van die Bybelboeke kon memoriseer nie. Dit het nooit sin vir my gemaak om te kon katkiseer deur die Bybelboek name te ken nie. Maar nou-ja ek het darem my boerematriek gemaak.

In my dae was daar nie iets soos ’n kinderbybel nie; ons moes maar die grootmens Bybel gebruik. Dit was vir my so fassinerend dat die see se water kon opdam dat daar ’n pad gevorm het waardeur die Israeliete kon vlug weg van die Egiptenare af. Stel jou voor hoe  dit moes gelyk het. Vir ’n kinderverstand was dit iets onbeskryfliks. So ook met die tien plae. Ek wat so bang is vir ’n padda kon myself nie iets indink soos paddas die hele wêreld vol nie. Ek sou te bang wees om te roer want sê nou net ek trap op ’n padda. Ek gril my dood. Steekvlieë, muggies, sprinkane,  oraloor. Nee ek sou vinnig wou padgee, maar die Farao was onverbiddelik. Ek het altyd gedink hy was ’n regte ou korrelkop. Maar die tiende plaag was vir my die ergste, al die eersgeborenes wat dood moes gaan, selfs die diere is nie gespaar nie. Die Israeliete was dit darem gespaar. Wat sou vandag se koerantopskrifte van daardie storie gemaak het? Ek wonder maar net.

Om die verskillende karakters in die Bybel te onthou was nie so maklik nie. Daarom het ons weergawes van Daniël se drie vriende wat in die vuuroond was  se name gemaak sodat ons dit op ons eie manier kon onthou. Dit was Saterdag, Meelsak en Appeltjie Eenoog i.p.v. Sadrag, Mesag en Abednego. So het ons maar die name ook aan ons kinders oorgedra. Maar ons het seker gemaak dat hulle weet dis “Afrikaanse” weergawes van die name.

Vir my as kind was die storie van Simson ook onvergeetlik. Amper soos Superman. Hy wat so sterk was dat hy drie honderd jakkalse kon vang en hulle sterte aanmekaar  vasgeknoop het met brandende fakkels tussen hulle sterte en dan  losgelaat het om die wêreld rondom hulle aan die brand te steek. Met ’n eselskakebeen  het hy ’n allemintige klomp mense uitgewis. Vir ’n kind was so iets amper ondenkbaar.

Dan was daar die verlore seun wat so hartlik deur sy pa terug verwelkom was. Dit bly vir my nou nog die beste storie ooit. Wys jou nou net hoe vergewensgesind ’n ouer kan wees: altyd bereid om te vergewe en te vergeet. Bloed bly maar dikker as water. Net jammer die ander seun het nie dieselfde gedink nie. Lekker jannetjie.

Die storie wat ook ’n onvergeetlike indruk op my gemaak het, was die een van Abel en Kain. Hoe kon een broer so wreed wees om sy eie broer dood te slaan? Dit bly maar vir my so ongelooflik, want ons is mos veronderstel om mekaar lief te hê.

So is daar baie  stories wat reeds in my kinderjare op my geheue vasgebrand is. Met die jare kom die wysheid en weet jy dat mense onverklaarbare dinge doen, dat sulke goed elke dag gebeur.

Nou lees ek die Bybel met ’n ander gesindheid as toe. Toe was die stories vir my die aantrekkingskrag, nou versterk en verdiep dit my geloof.

This entry was posted in Herinneringe, Kinders and tagged , , , . Bookmark the permalink.

2 Responses to Die Bybel

  1. Toortsie sê:

    Ek is regtig lief vir die bybel. Ek glo wat daarin staan, bevraagteken dit nie. Want vir n God wat die hemel en aarde kon skep, is enige iets moontlik.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s