Tegnologie en privaatheid

Met die deurblaai van ons plaaslike koerantjie lees ek van ’n persoon wat vra hoekom mense so op Facebook en Twitter al hulle persoonlike sake uitblaker vir almal om te sien. Waar is die dae toe mense se persoonlike ondervindings hulle eie was? Nou word dit met kleur en geur tot in die fynste besonderheid aan die wêreld uitbasuin.

Byvoorbeeld, iemand vertel van hoe hy gisteraand weer lekker baklei het oor ’n doppie wat te veel gedrink was of hy het al weer te veel op een of ander TV kanaal vasgehaak. Vroeër was sulke dinge in privaatheid uitgesorteer, nou moet al die Facebook-vriende ook by die relletjie betrek word. Elkeen kan maar weet. Op die ou end word dit ’n groot debakel. Hy voel hy is die vark in die verhaal, want onthou net sy vriende hoor sy kant  van die storie. Is dit nie ’n bietjie onregverdig nie?

In my geval word ek deur die kleinkinders getreiter, want ek doen partykeer maar snaakse dinge, wat hulle dan met hulle vriende deel. Soos die geval met die skelm rokery, wat nie waar was nie, maar almal het my gespot. Die foto van die swart gebrande toiletmuur was immers daar om dit te bewys. Vir hulle was dit ’n groot grap maar vir my ’n groot verleentheid. Hoe meer ek probeer verduidelik, hoe minder glo die mense wat net die “bewys” op Twitter en Facebook gesien het die ware storie.

Party mense se hele dag se doen en late word op Facebook geboekstaaf. Wat jy aangetrek het, hoe warm dit is, hoe verveeld jy is met absuluut niks om te doen nie; selfs soms, so hoor ek, hoe min hulle van hulle base dink. Vir my is dit darem te dik vir ’n daalder. Ek  hou daarvan om van die familie te hoor maar wil darem nie voel ek maak inbreuk op hulle privaatheid nie. En daarby wil ek liewers op die foon met hulle gesels en hulle stemme hoor.

Al die nuwerwetse telefone is vir my te moeilik om onder die knie te kry. Een van my kleindogter se vriende gee lesings oor sosiale media en mens kan hom oomblik vir oomblik volg. Kliek net op sy Facebookblad en jy weet waar hy nou weer sit en koffie drink – gelukkig vir hom is dit deel van sy werk.

Maar ek hou nog daarvan dat persoonlike sake maar net vir my ore bedoel is en nie vir algemene kennis op Facebook uitbasuin word nie. Wat van die mense wat op hulle Facebookblad uitvind dat hulle kêrel of nooi met hulle uitgemaak het? In die ou dae moes mens dit self vir die persoon sê, jy kon nie net ‘n sms stuur nie wat sê: Goodbye, have a nice life.

My kleinkinders is versot op hulle Blackberries, jy sien hulle nie daarsonder nie. Ek wonder soms in my enigheid of daar dan niks anders is wat hulle kan doen nie? Maar een goeie uitvindsel is definitief Skype waar jy sommer binne oomblikke regoor die wêreld  tot in jou kinders se sitkamer of kombuis kan sien en met hulle kan gesels. Dis wonderlik vir families wat nou so ver van hulle kinders en kleinkinders af is. Vir ons oues is dit nog steeds ’n tegnologiese wonderwerk. Vir die jonges is dit iets waarsonder hulle nie meer  kan klaarkom nie. ’n Alledaagsheid.

Ek mis nog maar steeds ’n handgeskrewe briefie wat ek kan bêre by my kosbaarhede. Wat ek weer kan uithaal en lees as die verlange te veel word. So is die gediggie wat een van die kinders geskryf het pas na sy troue, waarin hy ons bedank het vir die manier waarop ons hom opgevoed het en dat hy dieselfde beginsels sal wil handhaaf as wat hy by ons geleer het. Hyself is nou al ’n oupa maar dit bly vir my een van my kosbaarste besittings.

This entry was posted in Gewoontes, Uncategorized and tagged , , , . Bookmark the permalink.

5 Responses to Tegnologie en privaatheid

  1. Toortsie sê:

    Ek geniet fb. Ek moet eintlik sommer daaroor op my blog skryf. Dis my kontak met bekendes. Maar soos in die gewone lewe, moet mens maar in die sosiale media, dink wat jy sê.

  2. Ek stem saam met jou. As ek voel ek wil iets persoonliks uitblaker om ander se menings daarop te kry, sal ek dit beslis anoniem doen. In daardie geval is sosiale media miskien ‘n goeie klankbord.

    Selfoongesprekke het ook veroorsaak dat mens die mees intieme dinge van ander mense hoor!

    • klippie sê:

      Selfone het, soos jy sê, gemaak dat ons gemakliker is om goed wat in die verlede as privaat beskou is, sommer in die openbaar te bespreek. Ek moes een keer selfs aanhoor hoe ‘n man sy vrou bel, op ‘n Saterdagoggend terwyl sy saam met vriendinne was, om vir haar te vertel dat hy van haar wil skei. Ons sou dit mettertyd gehoor het, maar die skok en die seerkry was so rou dat dit my nou nog bybly.

  3. Stephan Steyn sê:

    Vandag moet ek nogal bieg;- Ek geniet facebook vir al die verkeerde redes. Vandat ek kan onthou was ek gek daaroor om mense dop te hou (gelukkig openlik en nie soos een of ander “peeping Tom” nie) en ‘n “studie” te maak oor dit wat hulle aanvang. Ek glo ek het daardeur ‘n ontsaglike klomp kennis oor mense opgedoen wat ek vandag in my allerdaagsheid toepas. Ek “misbruik” facebook soms net om ‘n siening te lug en die reaksie daarop te geniet, as’t ware terug te staan en die ander honde oor die been sien baklei. My aptyt vir mense en hul dinge sal seker nooit geblus word nie, vandaar my facebook aktiwiteite. Ek hou ook daarvan om die lagwekkende eerder as die tragedie in iets raak te sien en probeer om dit by my kinders te laat posvat. Vanmelewe se mense sou my seker as ‘n “plaatjie” beskou het. Ek sidder by die gedagte hoe ek deur meer kontemporêre analiste gekategoriseer sal word. Seker een of ander psigopaat of groepering waaroor aspirant Nobelprys wenners kwyl om te analiseer… Dalk moet ek hulle uitlok daartoe en dophou wat hulle doen. Miskien sal ek my kinders dan beter verstaan, of hulle vir my?

    • klippie sê:

      Dit bly interessant om by ‘n koffiewinkel te sit en te kyk vir die mense wat verbygaan. Baie keer is dit maklik om sommer ‘n storietjie rondom hulle te versin, maar soms is die verbygangers werklik soos toe boeke. Om myself op te som: ek is lief vir mense, vir samesyn, seker daarom dat ek op my ou dag begin blog het.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s