Diefstal

As jong getroudes het ons op ’n plot gebly. Ons het hoenders en ’n melkkoei aangehou. Geld was maar skaars, so ons moes beplan en begroot om met Klipman se salaris deur te kom. Ons rykdom op daardie stadium was  twee kinders, dertig hoenders en ’n melkkoei met die naam van Blommetjie. Klipman se salaris op daardie stadium was die koninklike som van ses en veertig pond enige sjielings. Aan die einde van die maand is daar dan koeverte gemaak met die uitgewerkte bedrae wat benodig sou word vir die maandelikse gebruik. Die kerk se maandelikse kollektegeld was ook in ’n koevert, so as die diaken kom was dit gereed vir oorhandiging.

Met die aanbreek van ons troudagherdenking het Klipman besluit ons kan dit vier met ’n uitstappie na die bioskoop. Kaartjies het destyds ’n volle daalder gekos. ’n Daalder was vyftien sent in hedendagse geld. Vroegaand het ek die kinders gereed gekry. Groot opgewondenheid het geheers. As ek reg onthou was die fliek Seven brides for seven brothers.

Daar trek ons weg, baie opgewonde en kan nie wag vir die pret om te begin nie. Ons het heerlik gelag en die prent ten volle geniet. Selfs ’n rooi koeldrank gedrink.

Met die huistoe gaan slag het die kinders aan die slaap geraak in die kar. By die huis aangekom moes die kinders afgedra word na hulle beddens maar eers moes Klipman die deur gaan oopsluit. Ek wag toe in die kar by die kinders totdat hy die deur oopgemaak het.

Die volgende oomblik kom hy briesend  by die kar aan en sê dat daar ingebreek was en dat die diewe al wat hulle in die hande kon kry gevat het. Die wasgoed wat nie gestryk was nie, die beddegoed van die beddens af. Die koeverte met ons huishougeld, die hoenders. Gelukkig het hulle Blommetjie vir ons gelos. Wat as ’n aandjie van pret begin het, het geëindig in ’n baie duur uitstappie. Ons eerste gedagte was hoe lank dit ons gaan vat om alles te vervang. Daar was nie ’n assuransie wat die gesteelde goedere kon vervang nie.

Ons grootste verlies op daardie stadium was die beddegoed, die kinders se klere en natuurlik Klipman se werksklere. Met ons groot uitgebreide familie, kon hulle darem help met klere en kos. Maar dit kan ek julle verseker vir jou selfvertroue en waardigheid bly dit maar moeilik om bakhand te staan. Ons was vir lank na die inbraak maar sku om saans uit te gaan. Ons enigste besitting was nou net  Blommetjie.

Ons het daarna vele inbrake beleef, maar minder traumaties, want toe het ons aan ’n versekeringskema behoort.

This entry was posted in Herinneringe and tagged , , . Bookmark the permalink.

2 Responses to Diefstal

  1. Stephan Steyn sê:

    Daar is niks so on-traumaties, on-dramaties, selfvondaan, waardig of skeel-my-maar-min soos vanuit die oogpunt van retrospeksie nie. Ek is oortuig dat Utopië slegs in hierdie sfeer bestaan, want alles wat krom en skeef is, is lateraan glad nie meer so krom of skeef soos wat dit eers was nie. Klippie,ek is seker dit het maar gekreun en geknars om destyds saans dankbare gebede voor te lê, terwyl jy vandag trotserig-bly is dat dit wel met julle gebeur het. Gelukkig het die Vader ‘n oorontwikkelde sin vir humor en verstaan Hy ons weersparrigheid waarmee ons, ons frustrasies ten toonstel. My vyfjarige seun, Zander, val die anderdag sy groottoon dat toonnaels en-velle bebloed in al veertien windrigtings staan. Histeries. Ek probeer hom toe troos dat Liewe Jesus soms ook nodig het om te lag en dat hy wat Zander is, Liewe Jesus nou baie lekker laat lag het met sy val en dat hy trots moet wees dat hy gekies was om dit te doen. ‘n Rukkie later, nadat ‘n soetdingetjie en koeldrank my kinnersielkundigheid aangevul het, sit hy so na sy seer toon en staar en sê toe ewe;- “Ek hoop Liewe Jesus het darem sy gat af gelag, want my toon het blerrie seer gekry”. Ek het eers sowat twintig minute later uit die badkamer kon kom…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s