Kersfees in Oktober?

In antwoord op ons koerantjie se rubriekskrywer wil ek ook my mening lug oor die vroeë Kersfees liedere en tooisels wat noual oral in die winkels gespeel en vertoon word. Meeste mense hou nie daarvan nie, want teen Kersfees is mens al so voos geluister na Kersmusiek, jy hoor dit eintlik nie meer nie. Die kleurvolle balle en kreukelpapier is lankal nie meer mooi nie. Kersvaderfigure en takbokke is maar net nog iets wat uitgestal word. Hopeloos te dik vir ’n daalder. Daarby word uitstallings van speelgoed en geskenke net al hoe groter. Ouers moet al hoe meer geld spandeer om die bloedjies gelukkig te hou want dit is mos ’n groot versoeking om vir Kersvader al jou wense op ’n briefie te sit en te kyk wat gaan gebeur.

Ek het darem al gehoor dat musiek met ’n Christelike strekking nie meer so baie gespeel word nie. Die musiek is rustig, wat nogal vir my meer aanvaarbaar is.

In my jong dae was daar nie Kersfees gevier soos nou nie. Vir ons was dit net soos ’n Sondag. ’n Heerlike Sondagmaal is saam met die uitgebreide familie geniet. Selfs geskenke was maar klein en goedkoop en gewoonlik iets wat jy nodig sou hê, soos kleurpotlode of iets anders wat jy vir die skool nodig sou kry. Geld was nie volop nie maar ons was gelukkig met dit wat ons gekry het. Ons spesiale dis waarvoor ons as kinders nie kon wag nie, was die doekpoeding, met regte tiekies in. Mens se grootste wense sou bewaarheid word as jy die porsie met ’n tiekie in gekry het.

Ek het maar op ’n gevorderde ouderdom eers kennis gemaak met ’n kommersiële Kersfees, waar dit meer gegaan het oor die grootte van ’n geskenk en hoeveel gespandeer is aan ’n Kerspartytjie. Nou word daar so baie tyd aan beplanning gespandeer dat die arme gasvrou al voos is wanneer Kersfees uiteindelik aanbreek. Alles om nie die vorige jaar se tema en kleurskema te herhaal nie. Die Kerskoek word al drie maande voor die tyd gebak en verouder. Spyskaarte word beplan en natuurlik is die aankoop van geskenke ’n gewigtige saak. Daarby is dit nie so ’n uitgemaakte saak wie genooi sal word en wie nie.

Met al my kinders en kleinkinders al grootmense, is Kersfees deesdae vir my maar net nog ’n dag. Vroeër was my grootste geskenk as ek die kinders wat nie by skoonouers moes wees nie, rondom my eettafel kon hê. Nou is ek bly vir elkeen wat saam met ons Kersfees vier. Dis seker meer as 20 jaar gelede dat al my kinders vir dieselfde Kersfeesviering by ons was.

Nou is daar niks waarna ek meer verlang as daardie ou dae se Kersfees waar ons nie kon wag vir eie neefs en niggies met wie ons kon saam speel en baljaar nie. Daarna het ons, moeg en uitgeput, ouma se lekkernye verorber en uitgesien na die volgende Kersfees. O, die vreugde van kindwees: om te hardloop en speel en in die rondte te tol tot jy van dronkheid neerslaan op die gras. Net om dit nou-nou maar weer te herhaal.

This entry was posted in Familie, Herinneringe and tagged . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s