Afskaal

Wanneer mens moet begin afskaal van ’n huis na ’n kleiner plekkie, gaan daar darem baie dinge deur jou gedagtes. Al het mens meer as een huis bewoon, is daar altyd die een huis waar jy jou kinders saam met jou onder een dak versorg het wat mens as jou huis beskou, die plek wat mens “home” noem.

Dit is die plek waarvan mens moet afskeid neem, iets meer as net ’n huis: die mure wat julle beskerm het teen wind en weer. Letterlik en figuurlik. Die storm- en drangjare van jou tienerkinders, die blydskap, hartseer, teleurstellings noem maar op. Alles wat ervaar was in die jare wat julle so saam-saam daar was. Die jare toe hulle hulle eerste liefdes ontmoet het. Die weggaan na universiteit, of weermag. Hulle kinderdrome wat nie regtig uitgewerk het soos hulle dit sou wou gehad het nie, die afskeid om te gaan aanmeld by ’n weermagkamp waar die seuns gewoonlik niemand geken het nie. Vir hulle was dit die weggaan van ’n redelike beskermde lewe na ’n bestemming waarvoor hulle hulle nie in hulle wildste drome kon voorberei nie. Die verset wat die kind in sy kamer kon verwoord, net die mure as sy getuie. Dan kom hy huistoe met sy meisie, stralend gelukkig, weer eens met die kamer as sy getuie waar hy kan droom oor die toekoms saam met haar.

Meisiekind bring haar outjie vir goedkeuring sodat ma kan deel in haar vreugde. In haar lewe was daar meer as een aspirant vryer, totdat sy meneer reg ontmoet het. So was haar kamer ook ’n stille getuie van al haar liefdesdrome. Vir die seuns was dit makliker; hulle het sommer gou besluit wie hulle wou hê. Nogtans was die kamermure ook hulle getuies.

Dan kom die finale afskeid van hulle kinderjare. Elkeen het nou sy keuse gemaak in watter werkrigting hulle wou gaan. Hulle is getroud, het hulle eie kinders en so bly pa en ma alleen agter. Solank as die gesondheid hou word die huis en tuin nog in stand gehou. Mens dink nie eers aan afskaal nie.

Maar dan begin jou man se gesondheid vinnig agteruit gaan. Nou moet mens van die groot huis en erf ontslae raak. Dit is onvermydelik want ma alleen kan nie die versorging van die huis en tuin waarneem nie. Natuurlik dink mens terug aan alles wat onder die huis se dak gebeur het. Die groot kombuis waarin soveel maaltye voorberei was. As jy jou verbeel ruik jy nog al die geure van die kruie wat daar gebruik is en blikke koekies wat daar gebak was. Elke kind se kamer het sy eie besonderse geur, elke boekrak in suster se kamer het nog boeke in wat syQ versamel het. Selfs van die seuns se uiteenlopende belangstellings is daar steeds tekens: kleinboet se fotografie, met ’n vergroter en ou kameras is stille getuies van wat hy graag wou gedoen het. Ouboet was ’n militaris en in sy kamer was daar tekeninge en plakkate teen die muur van tenks en soldate.

So beweeg jy van kamer na kamer en onthou elke traan en lag, en besef jy het aan die einde van ’n era gekom. Jy bel die eiendomsagent en doen wat jy moet doen. Pa is weg en jy bly alleen agter. Jy onthou die woorde van Prediker wat gesê het daar is ’n tyd vir alles en jy is dankbaar vir die jare wat julle saam kon geniet.

Nou is ek heeltemaal afhanklik van die goedheid van my kinders. Ek bly in ’n grannyflat by my dogter en dink dikwels terug aan die tyd toe ons as familie nog onder een dak was. Dan wonder ek wat die mure sou sê as hulle kon praat. Sou hulle die geheime wat jy in frustrasie en blydskap hard verwoord het of die eensaamheid van jou kamer as jy gedink het niemand kan jou hoor nie uitlap?

This entry was posted in Oudword and tagged . Bookmark the permalink.

One Response to Afskaal

  1. Sparkle sê:

    Sjoe. Hierdie inskrywing van jou laat my vir die eerste keer besef.

    Sjoe.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s