Varkore

Hier in ons omgewing het die werklose mense nou ’n ander manier om geld te probeer maak. Met die aanbreek van die warmer weer blom die varkore (of varklelies) in al hulle glorie. Plate varkore groei wit en welig in die koeltekolle onder die bome.  Die straatsmouse gaan dan heen, pluk armsvol van die blomme en verkoop dit op die hoeke van die strate en by robotte.  Hulle gee nie juis om wat dit aan die natuur doen nie en, in elk geval, is daar baie gewillige kopers.  Die plante word kaal gestroop van die blomme en sodoende word die saadlobbe vernietig, die gevolg  die plante kry nie kans om  voort te plant nie. So word die plante al minder en in baie gevalle sommer heeltemal uitgeroei. Dit is vir die smouse belangrik nie en bosse blomme wat nie verkoop is teen die middag nie word sommer langs die pad weggegooi.

Mense is jammer vir die werkloses en koop die blomme, min wetende dat  hulle wederregtelik die blomme bekom. Nou sien ek in vanoggend se koerant dat die omgewingsbewustes asseblief vra dat mense nie die smouse moet ondersteun nie. Waar vroeër plate van die varkore in die vleie gestaan het, is daar op baie plekke glad nie meer varkore nie. Vir my wat genoeg het om te eet is dit maar moeilik om myself in die onwettige smous se idee van wat reg of verkeerd is in te dink.  Hy redeneer dalk dat as hy die blomme pluk en verkoop, hy nie van iemand steel nie want die blomme groei nie in iemand se tuin nie, dit groei tog in die veld.

Baie van ons nasionale paaie het al  groot inbreuk gemaak op ons natuurskoon. Bome en inheemse plante word elke dag vernietig en sterf mettertyd uit. Nuwe uitbreidings en hoë geboue ontneem ons van die uitsig  en lieflike omgewing; alles in die naam van vooruitgang. Ek dink dat die regering reg besluit het dat daar ontslae geraak moes word van eksotiese plante en ons ons meer op die aanplant van inheemse bome en struike moet toespits. Na bewering sal die voëllewe sommer baie verbeter.

My seun wat in ’n natuurreservaat bly, kan getuig dat mense nie ’n tweede gedagte aan die behoud van wat inheems is skenk nie. Inwoners word spesifiek gevra om nie bome of plante wat nie natuurlik in daardie omgewing  groei nie aan te plant nie, maar pure verniet. Omdat die wild vryelik daar rondloop, vra hulle ook dat erwe nie omhein of afgekamp word nie uit vrees dat die bokke hulleself  sal beseer of verstrengel sal raak in drade.

So as jy in die versoeking kom om blomme of plante van die verkopers  aan te koop, dink twee keer, al het jy miskien jou vrou se verjaarsdag vergeet. Volgende jaar is daar alweer baie minder plante vanweë mense se optrede.

This entry was posted in Natuur and tagged , . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s