Kan jy nee sê?

Dit is en was nog altyd moeilik om nee te sê vir my buurvrou, werksmaat of kind wat op die nippertjie kom vra dat ek met een of ander probleem moet uithelp. Totdat ek eendag tot die ontnugtering besef het dat hulle besig was om my uit te buit.

“Ma,” sou my skoondogter vra, “ek moet vir ‘n week na een of ander werkswinkel gaan, sal ma die kinders kom versorg terwyl ek weg is?” Ma het intussen gedink sy sou kon doen met ‘n kuiertjie by een van die familielede wat sy lanklaas gesien het. Dan verseker sy die kind dat sy altyd beskikbaar is. “Moet jou nie bekommer nie, gaan en geniet die werkswinkel.” Geen opoffering is mos te groot vir ‘n ma of ouma nie.

By die werkplek weet almal ook jy sê nie maklik nee nie, so daar is altyd een wat kom vra dat jy moet uithelp met die een of ander takie. Jy is altyd gereed om met ‘n glimlag in te stem. Om altyd in te val met ander se planne en nooit aan jou eie behoeftes te dink nie. Vir my was dit normaal en het ek nooit daaraan gedink dat ek nie altyd gereed hoef te wees om ander te help nie. Ek kon ook nooit eers dink aan ’n witleuentjie om as verskoning te gebruik waarom ek hulle nie kon help nie. Ek wa altyd reg om te help.

Ek dink dit is saam met die moedersmelk vir my gegee, want my ma moes ook, al was dit nag, gaan uithelp by die werkers se huise of iemand wat haar hulp nodig gehad het. Sy het nooit gekerm of gekla nie. Sy was altyd daar om te help. Altyd reg met ’n koppie tee en goeie raad.

Namate ek ouer geword het, het my eie verpligtinge meer geword en was dit nie altyd maklik om ander mense uit te help nie. Ek moes noodgedwonge leer om nee te sê, partykeer teen my sin. Ek sou so graag maar wou uithelp, maar omstandighede het dit nie altyd toegelaat nie.

Omdat ons nogal ’n hele entjie van die stad af was, was daar gereeld versoeke om die een of ander ding saam te bring wanneer ons stad toe gegaan het. Niemand het ooit gevra of dit vir jou moontlik sou wees ni; hulle het so half vanselfsprekend aangeneem dat jy nie nee sou sê nie.

Ons het familielede gehad wat sommer vir ’n week by ons sou kom afpak sonder om eers te vra of dit vir ons geleë sou wees. Ek het op daardie stadium ook buitenshuis gewerk, en moes dan saans nog kom regstaan vir aandete en voorsiening maak vir die volgende dag se etes sodat hulle kon kuier. Ons het nooit daaroor gepraat nie, want ons was te bang om aanstoot te gee. Agterna het ek besef ’n mens moet soms maar oë toeknyp en jou sê sê. Want die eintlike slagoffer van my frustrasies was maar my man, want dit was sy familie.

Die wiel het nou gedraai en is ek die een wat hulp nodig het. Ek wonder nou by myself of daar nie een is wat met ’n witleuentjie vir my verseker dat ek nie moeite is nie. My dankbaarheid teenoor diegene wat my moet versorg is oneindig groot want ’n oumens is maar ’n moeilike affêre.

This entry was posted in Familie, Oudword and tagged . Bookmark the permalink.

5 Responses to Kan jy nee sê?

  1. MaanKind sê:

    Ek help waar ek kan en wil, en ek help graag, maar ek sê net so maklik nee as dit my nie pas nie. En ek verduidelik ook nie, ek glimlag net vriendelik, en sê, Jammer, ek kan nie. Punt.

  2. Stephan Steyn sê:

    Ai, ek wens, ek wens, ek wens… Klippie met haar gooiarm wat nooit misgooi nie en Maankind wat allerhande drome met haar haar stokkie uit die sand kan optower. Synde oordrewe konserwatief en onbeskaamd-trots Afrikaans kan ek julle baie maklik as die vriendelike tannies teen my bors vasdruk. Julle is so ongelooflik gelukkig dat julle “nee” kan sê, want ek is oënskynlik ligjare daarvan weg… Die Groot Boek sê nie verniet dat seëninge ongeregverdigde lyding is nie en as plaaslaaities is Calvyn se leerstellinge by meer as een geleentheid op ons agterstewe en inbors ge-ets. Goeie maniere en liefde vir die medemens en empatie met die wat nie het nie, of minder het, het altyd prioriteit geniet teenoor die nee-sfeer waaruit julle so knus kommentaar lewer. Ek beny julle, ek bewonder julle. En ek eis my naam in jul gebede…

  3. Ek het altyd ook gesukkel om nee te sê, maar ek kry dit nou se dae makliker reg. Of eerder, ek help net mense wat ek weet daar sal wees as ek hulle ooit nodig sou kry. Mens leer met die tyd om die kaf van die koring te skei.

  4. net n ander iets sê:

    EK hoor julle en luister na die argumente en verstaan maar as jy gehelp was deur mense wat dit eintlik ook nie regtig kon bekostig om te help nie, en iemand vra nou jou hulp is daai hulp wat jy gekry het die eerste ding wat in jou gedagtes terug kom. So ja ek is skuldig daaraan dat ek soms help waar hulpeintlik nie werklik gegee behoort te word nie. is ek spyt partymaal wel maar ek weet ook dat more sal ek dit weer doen want vandag is ek waar ek is deur mense wat bereid was om hulle eie behoeftes 2de te stel om my te kon help en vir hulle sal ek ewig dankbaar bly. So vir wie dit mag tel.
    Baie dankie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s