Huis, paleis

Vandag besef ek dat die uiterlike dop van ’n mens se huis nie noodwendig van jou huis ’n tuiste maak nie. Wanneer ’n huis soos ’n droompaleis van buite lyk, dink mens dat alles so glad soos seep daar binne verloop, min wetende dat die inwoners daarvan sielsongelukkig is. Ons mense is so geneig om te oordeel aan wat ons van buite sien. Dan dink mens dat dinge daar binne net so ordelik en gelykmatig gaan, sonder haakplekke. Maar wanneer ek na die radio luister en briewe van mense wat raad vra lees, hoor en sien ek die hulpgeroep van mense in ongelukkige huwelike, mense met probleemkinders en sommer allerlei ongelukkighede.

In die jare toet het ons baie eenvoudig gelewe, en daar was min mededinging met ons bure. Ons was oor die algemeen tevrede en trots oor dit wat jy en jou wederhelfte kon bereik met dit wat julle verdien het. Ek dink dat daar sodoende ook baie ongelukkighede nie die lig gesien het nie.

Vir my bly die kern van ’n huis steeds die ma. Julle onthou seker nog die raam teen die muur wat gevra het, Wat is ’n huis sonder ’n moeder? Sy bly maar vir my die steunpilaar wat bepaal hoe die gesin hulle probleme benader; sy gee raad en is gewoonlik die buffer tussen pa en die kinders. Pa is die ruggraat met ma wat hom ondersteun in alles wat hy beplan en aanpak. Sonder ’n ma is daar nie warmte in ’n huis nie.

Ek wens daar was ’n kitsoplossing vir al ons huwelike wat nou op die rotse beland en dat ’n gesin weer as ’n eenheid saam kon staan. So baie kinders hou letsels oor na hulle ouers se egskeiding wat hulle kanse om te presteer en hulleself te bewys in die wiele ry.

Omdat een van my kinders ook deur die egskeidingsmeul gegaan het, kan ek getuig daarvan dat sy kinders uit die huwelik baie erg aan verwerping gely het, met die dwarstrekkery oor toesig. In die tyd waarin ek groot geword het, is egskeiding as ’n euwel beskou, en daarom het ek my kind se egskeiding as baie traumaties ervaar. Ek het my dae omgehuil; nie soseer oor die huwelik wat verbrokkel het nie maar die twee kinders wat so ongevraag in ’n moeilike situasie beland het. Die seer in hulle oë kan ek tot nou nog nie vergeet nie want hoe kies jy tussen die twee mense wat vir jou op daardie tydstip die dierbaarste op aarde was, jy is dan lief vir hulle albei.

Die ewige toutrekkery en verwyte het baie negatief op die kinders ingewerk. Hulle is nou al volwassenes, maar steeds bly die gemis daar. Vir my is dit nog al die tyd ’n baie teer saak.  Ek sou so graag wou hê dat alle probleme in huwelike uitgewerk kon word en dat dit nie op ’n egskeiding hoef te eindig nie.

Daarom dink ek dat al is die buitenste dop van die huis nie te watwonders nie maar daar is liefde en respek vir mekaar sal daar altyd kosbare herinneringe wees wat ons vir altyd kan koester.

This entry was posted in Familie and tagged . Bookmark the permalink.

5 Responses to Huis, paleis

  1. MaanKind sê:

    Aan die ander kant, as ek ‘n verwaarloosde huis met slordige tuin sien, dan sê dit tog iets van die inwoners. En hulle innerlike geluk, wat tog trots en selfrespek wys?

  2. Stephan Steyn sê:

    Mense mekaar, veral deesdae, aan die hand van wat jy kry, waar jy bly en wat jy ry… Onsinnig en psigies verlore!

  3. Stephan Steyn sê:

    Ai, jammer, toe laat ek die helfte van dit wat ek wou sê aan my vingerpunte hang. Mense beoordeel, of is dit veroordeel, mekaar, veral deesdae, aan die hand van wat jy kry, waar jy bly en wat jy ry… Onsinnig en psigies verlore!

  4. toortsie sê:

    Ek dink baie hieroor. Hoekom loop soveel huwelike skeef?? Is dit omdat elkeen net vir homself werk/leef, ook in sy huis? Is dit dalk dat gesinne nie meer tyd aan mekaar spandeer nie? Is hulle so besig om te jaag na geld, aansien, dalk net om ‘n dak oor hulle koppe te hou, dat die mense naaste aan hulle daaronder ly? Is dit dalk dat mense nie meer hulle emosionele gesondheid koester nie? Dit voel soms vir my of volwassenes meer kinderagtig as kinders is in hulle redeneervermoë en optrede. Hulle moet so bewys hulle is nog steeds NET SO JONK soos 20/30 jaar gelede??? Iewers het dinge skeef geraak.

  5. Slakkelak sê:

    om jou huwelik te laat slaag is ‘n besluit. Sommige mense het omstandighede waar die besluit op egskeiding uitloop vir ‘n beter toekoms vir almal, maar baie huwelike WIL mense net nie werk nie. Respek. Die grootste grondslag vir alles in jou lewe. en dit begin by selfrespek

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s