Saterdag

Die reën wat deur die weerburo en die Piet my vrou se geroep voorspel is, het toe nie regtig gerealiseer nie. Ons moes maar tevrede wees met so ’n katspoegie reën. Ek klink nou soos die spotprenttekenaars se weergawe van ons boere. As dit reën is dit te veel, as die reën wegbly sien ons net groot droogte. En natuurlik herinner dit aan die bekende gediggie van AG Visser:

Ja, 40 dae agtereen
en veertig nagte lank gereën
dis ’n rekord, tot op hede
“Meneer, mag ek Meneer iets vra?”
“Maar al te seker, Japie, ja.”
“Was die Boere toe tevrede?”

As ek so na buite kyk, lyk dit na ’n baie warm dag wat voorlê. Net so ’n effense luggie wat trek. Volgens die weervoorspelling vroegoggend kan ons ’n temperatuur van so 38 grade verwag. Ek kan myself nie voorstel dat ek so ’n paar weke gelede gekla het oor die vreeslike koue nie. Al wat ek nou onthou is dat my pyne baie erg was, en ek kon toe die koue daarvoor blameer.

Dit laat my dink: Watonthou mense? Gewoonlik net die probleme? As alles goed gaan, word dit mos as vanselfsprekend aanvaar. Ek luister so na die predikant vanmôre toe hy verduidelik dat ’n mens as persoon vergelyk kan word met ’n stofkorreltjie. Dan wonder ek hoekom dit vir my voel asof ek prioriteitsbehandeling moet kry, dat my gebede onmiddellik verhoor moet word, my pyne en skete sommer met ’n vingerklap beter moet word. Daarby murmureer ek ook oor dinge wat ek nou nie meer kan doen nie.

Gedurende die week was ’n klompie van ons ouer vriende bymekaar; twee van ons is afhanklik van hulp van ander. As ek so rondom my kyk, sien ek een van die dames, heelwat ouer as ek, wat nog haar eie kar bestuur, haar eie tuin aan die gang hou en daarby kans sien om rond te kuier. Op en wakker. Wat het ek dan verkeerd gedoen?

Ek het ’n veelbewoë lewe agter die blad, moes hard werk, kinders grootmaak, huishou. Ons wou ook graag vir die kinders ’n makliker lewe laat lei, dat daar vir hulle ’n beter toekoms sou wag as wat ons self ondervind het. Geld, wat maar altyd ’n struikelblok was, moes iewers vandaan kom om dit wat broodnodig is te voorsien en was die oorsaak dat ons langer ure moes werk. Ons het onsself gedryf om daardie ekstratjie weg te sit vir hulle naskoolse opleiding. Ek dink terug aan drome wat ons gekoester het oor wat die kinders eendag sal bereik. Nou met nabetragting besef ek dat jy as ouer net vir hulle die pad moet aanwys, maar hulle self die pad van hulle drome moet volg.

Nou het ek genoeg van kla en wil ek positief dink aan die dag wat voorlê. Dink liewer aan die Curriebeker wedstryde wat vanmiddag op televisie gewys gaan word. Skreeu vir jou span met volle oorgawe. Die Blou Bulle is nie daar nie, nou moet ek maar vir die Sharks skreeu. Natuurlik teen my sin.

This entry was posted in Oudword and tagged . Bookmark the permalink.

3 Responses to Saterdag

  1. MaanKind sê:

    Toemaar, Klippie. Baie mense wat baie jonger is as jy, wat baie meer bevoorreg is as jy, kla ook baie meer as jy…

  2. seegogga sê:

    Ai, soms wil mens mos op ‘nm hopie gaan sit, maar dan moet mens net rondkyk en sien dat daar ander is wat veel slegter af is as jy self, en dan is mens weer dankbaar. Sterkte daar!

  3. Stephan Steyn sê:

    Gelukkig was (en is) my Leeutjies steeds daar…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s